Die DAK Netwerk, wat hom beywer vir die bewaring van Afrikaanses se inheemse taalerfenis, het op Erfenisdag ’n tydkapsule en bome in Worcester geplant.
Die geleentheid het in samewerking met die Junior Stadsraad plaasgevind en is by die kantoor van die organisasie Chipros gehou.
Die doel van die tydkapsule is om ’n tasbare nalatenskap oor die werk van DAK, tesame met indrukke van die tyd waarin Suid-Afrika hom nou bevind, vir ’n kort tyd te bêre.
In die tydkapsule is ook ’n afskrif van die Standard, Die Burger en Son en ander intydse artikels, voorwerpe en dokumente wat spesifiek die nalatenskap van dié kultuurgroep en organisasie beklemtoon. Mense wat die geleentheid bygewoon het, het ook die kans gehad om artikels impromptu in die kapsule te plaas. Lede van die Junior Stadsraad het onderneem om die tydkapsule oor 20 jaar op te grawe.
DAK het veral vroeër vanjaar ’n groot rol gespeel in die ommeswaai van die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande, se siening van en beleid oor Afrikaans as inheemse taal.
DAK het ’n dokument aan Nzimande, waarin protesnotas en skrywes vervat is, gestuur nadat die minister nie Afrikaans as inheemse taal wou erken nie. Dié dokument het die werklike en feitelike herkoms van Afrikaans uiteengesit, asook die verbintenis wat die taal se ontstaan met die Khoi- en San-groepe van Suid-Afrika reeds het sedert die eerste Europese handelaars voor 1652 hier arriveer het.
DAK het destyds ook ’n betoging na die kantore van die minister gehou.
In sy toespraak op Erfenisdag het Danie van Wyk, die voorsitter, gesê die plant van ’n boom saam met die tydkapsule is simbolies daarvan dat Afrikaans nie onder beleg is nie, maar nog eintlik aan die groei is.
“Nog ’n voorbeeld is die voorgestelde naamsverandering van die Taalmonument. DAK het daar ingeklim, en die minister moes van sy perdjie afklim en die Taalmonument se naam bly net so. Al wat ons vra is: Moenie ons taal ontken nie.’’
Van Wyk het aangedui die meeste Afrikaanse skole is in die Wes-Kaap – meer as 1 000. DAK gaan nou ook met die Wes-Kaapse minister van onderwys praat oor die verengelsing van die departement se kommunikasiemiddele en die sluiting van kleiner Afrikaanse skole.
“As ons nie namens onsself praat en optree nie, gaan iemand dit doen nie.”
Bome is ook by verskeie skole in die dorp geplant.





