Motors soos hierdie Mini neem Saterdag (7 Mei) aan die Ezelsjacht Karoo Rallysprint4all deel.

Credit: SYSTEM

Dis weer tyd om stof te skop in die Ezelsjacht Karoo Rallysprint4all se derde tydren en hul herfsbyeenkoms.

Dit vind plaas op 7 Mei op die plaas Ezelsjacht op die R318 tussen De Doorns, Touwsrivier en Montagu.

Ontvangs van dokumentasie begin om 08:00 en duur tot 09:30, waarna ’n verduideliking en ’n roeteverkenning volg. Die eerste motor sal 10:30 wegspring.

Die tydren-sprint verloop as volg: Die renjaer en sy/haar navigator spring weg met hul motor met geskrewe notas vir die navigator, wat dan vir die bestuurder die roete stuksgewys verduidelik. Die vinnigste tyd per sneltrajek (stage) in elke gegewe motorklas sal dan die wenner wees.

Altesaam vyf sneltrajekte van 33 km sal uitgelê word. Die motors word in vyf klasse verdeel, waaronder Klas E, wat Mini’s, driesilinder-buisraammotors of die boervrou se Golf behels. Klas A behels viertrekvoertuie soos Landrovers, Subaru’s en selfs plaasbakkies.

Al wat deelnemers benodig om in te skryf, is ’n inskrywingsfooi, sitplekgordel en valhelm.

Toeskouers is welkom om die dag te kom geniet teen R30 per persoon. Verversings sal te koop wees.

Die sprint eindig ongeveer 16:00 met ’n prysuitdeling, waarna die groot vure sal brand vir kos en musiek die Saterdagaand.

Hoe kom jy daar? Vanaf die N1, draai op die R318 en ry in die rigting van Montagu vir 20 km. Aan die linkerkant is die plaas Ezelsjacht.. Kontak Neels by 083 662 2819 of neelsvanwyk68@gmail.com vir enige navrae. Vir inligting oor inskrywings, gaan na www.rallysprint of besoek die Facebookblad vir vorige byeenkomste.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article