Daylin Mitchell, die Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, het ’n ernstige beroep op voertuigbestuurders gedoen om die oorblywende week te gebruik om hul rybewyse voor die einde van die maand te hernu om lang rye en al hoe meer druk te vermy.
Fikile Mbalula, die nasionale minister van vervoer, het vroeër die spertyd vir die hernuwing van bestuurslisensies tot 31 Maart verleng. Hierdie grasietydperk behels alle rybewyse wat in die tydperk tussen 26 Maart 2020 en 31 Augustus 2021 verval het.
Van die altesaam 327 295 rybewyse in die Wes-Kaap wat van Augustus 2021 af hernu moes word, is 255 551 hernu. Dit laat dus nog 71 744 wat voor die einde van die maand hernu moet word.
Dit beteken 78,1% van motoriste het hul rybewyse vir die tersaaklike tydperk hernu.
“Ek het in Januarie aan minister Mbalula geskryf om ’n verdere verlenging van die geldigheidstydperk van leerlingrybewyse, rybewyse, tydelike rybewyse en professionele bestuurspermitte te versoek,” sê Mitchell.
“Hoewel ek tot nou nog nie ’n formele antwoord ontvang het nie, verwelkom ek die nuus dat die kaartmasjien herstel is en weer werk. Ek glo egter sterk dat die minister (Mbalula) breedvoerig moet verduidelik wat gedoen moet word as mense nie hul rybewyse betyds ontvang nie.”




