’n Skikkingsooreenkoms is verlede week bereik kort voordat die hooggeregshof in Kaapstad sou begin om ’n aansoek van Anton Bredell, die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, aan te hoor om die raad van die Theewaterskloof-munisipaliteit se aanstelling van Wilfred Solomons-Johannes as munisipale bestuurder te hersien.

Bredell, die munisipaliteit en Solomons-Johannes het die skikkingsooreenkoms bereik, luidens ’n verklaring van die Theewaterskloof-munisipaliteit.

Die munisipaliteit en Solomons-Johannes sou die aansoek teenstaan.

Die skikkingsooreenkoms maak voorsiening vir die tersydestelling van die aanstelling van Solomons-Johannes en dat die raad van voor af met die aanstellingsproses begin.

Solomons-Johannes sal in die pos aanbly tot die afhandeling van die proses, luidens die verklaring.

Elke party het ingestem om sy eie regskoste te betaal en die skikkingsooreenkoms is ’n hofbevel gemaak, luidens die verklaring.

Solomons-Johannes het die hofbevel verwelkom en gesê hy sal waarskynlik weer deelneem aan die proses om as munisipale bestuurder aangestel te word.

Volgens hom voldoen hy aan al die vereistes vir die aanstelling.

Bredell het in ’n verklaring gesê ’n hofbevel is op 5 Maart by ooreenkoms bekom rakende die aanstelling van Solomons-Johannes.

Ná sy aanstelling as munisipale bestuurder op 27 Julie 2023 deur die raad het Bredell regsgedinge in die hooggeregshof ingestel om die aanstelling onwettig te verklaar.

Die aangeleentheid was vir Dinsdag op die hofrol.

Die hof het beslis die aanstelling van Solomons-Johannes is onwettig en dat dit tersyde gestel word. Sy laaste werksdag sal op 22 Junie wees.

Verder is die munisipaliteit beveel om teen 22 Maart met ’n nuwe werwingsproses te begin.

.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article