Talle inwoners en rolspelers in Wyk 7 is ontstoke nadat hulle self die sypaadjies in dié betrokke wyk moes opknap en na bewering self moes reël vir die optel en verwydering van die afval en onkruid.
Juenieta Everson van die dierebeskermingsorganisasie Sandy’s Eden, tesame met vrywilligers en ander rolspelers in die gemeenskap, het verlede week besluit om ’n goeie daad te verrig en die sypaadjies van Wyk 7 (wat insluit Paglande en die gebied rondom die Worcester-hospitaal) weer netjies te maak.
Everson en die vrywilligers het begin deur al die vullis bymekaar te maak en in hope te sorteer. Daarna het die spanne al die onkruid verwyder en die sypaadjies weer netjies gemaak.
Toe Everson egter die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) daaroor inlig en vra om die gemors te verwyder, het die glimlag van die goeie daad wat sy en talle ander verrig het vinnig in ’n frons omgeskakel.
“Ons het gedink ons verrig ’n goeie daad en dit was hoog tyd dat die omgewing ’n bietjie skoongemaak word. Ons het dit gedoen en is toe deur BVM ingelig dat ons dit óf self moet verwyder óf in swartsakke plaas sodat hulle dit kan verwyder. Hulle het bloot gesê hulle gaan dit nie doen as dit net so lê nie.
“Ek was geskok en het die wyksraadslid in kennis gestel. Deur die vaste afvalafdeling het ons toe aanvanklik sestig swartsakke gekry, maar dit was nie naastenby genoeg nie,” verduidelik Everson aan Standard.
Daarna het sy weer die BVM gekontak en is maar net 20 ekstra sakke gegee. Daar was egter amper dubbel dit nodig.
“Hulle kan nie verwag dat ons basies hul werk oorneem en dan nog uit ons eie sak uit betaal vir die sakke nie. Dit voel net nie reg nie.”
Die wyksraadslid vir die betrokke wyk, dr. Julian Kritzinger, het aan Standard gesê dat hulle intussen ’n vraghouer in die omgewing geplaas het om die verwydering te bespoedig.
“BVM se vaste-afval-afdeling het ’n vraghouer daar gaan plaas sodat al die onkruid en afval daarin gegooi kan word. As die houer vol is, dan gaan daar ’n nuwe houer aan hulle voorsien word. ’n Vraghouer gaan alles net makliker vir almal maak, want tyd gaan gespaar word om sakke te vul en dit sal help dat die onkruidsaad nie op die grond val nie. Dit is dan ook net soveel makliker om alles te verwyder,” verduidelik Kritzinger.
Hy voeg ook by dat ’n klagte deur die gemeenskap ingedien is by die inbelsentrum, maar dat alle afdelings volgens ’n rooster werk om by klagtes uit te kom.
“Dit is belangrik dat wanneer die publiek in die toekoms enige skoonmaakaksies in ’n wyk wil uitvoer, hulle dit voor die tyd aan die wyksraadslid sal kommunikeer sodat al die nodige bystand deur die verskillende departemente vroegtydig gereël kan word en die munisipaliteit maksimum bystand kan verleen.”
Hy is egter dankbaar vir die gemeenskap se bereidwilligheid om die omgewing skoon en netjies te maak en so te hou.
“Ek wil ook my hartlike dank aan die skoonmaakaksie se organiseerders en spanlede oordra. Die gedeelte wat julle skoongemaak het, lyk pragtig en julle het in ’n kort tydjie ’n groot verskil gemaak om vir jul buurt ’n nuwe baadjie aan te trek. Ek wil julle felisiteer met jul inisiatief en die eienaarskap wat julle met trots van jul woonbuurt geneem het,” het Kritzinger bygevoeg.





