Ivaan Levendal en Edrich Ter Haar is twee Worcesteriete met ’n passie vir krieket – ’n passie wat so ver strek dat dit vir dié twee krieketspelers ’n plek in die Protea-blinde-krieketspan losgeslaan het.
Van 4 tot 18 September was Ivaan en Edrich in Indië saam met die res van die Protea-span om deel te neem aan die blinde-krieketwêreldbeker teen lande soos Pakistan, Sri Lanka, Nepal en Bangladesj.
Beide Ivaan en Edrich se liefde vir krieket is in hul kinderdae gekweek, toe hulle in die ouderdom van onderskeidelik 12 en 10 begin speel het.
“Ek is in die Pionierskool aan krieket bekend gestel, en het drie jaar terug blinde-krieket op kompetisievlak begin speel,” sê Edrich, wat ’n kolwer is.
Ivaan, ’n ywerige bouler, is saam met Edrich in die plaaslike Victorianskrieketspan, asook die Suid-Afrikaanse nasionale blinde-krieketspan opgeneem waar hulle verskeie wedstryde speel, asook in die plaaslike ligawedstryde wat die afgelope Sondag begin het.
“Wat blinde-krieket anders maak, is dat dit met die onderarm geboul word, en op die grond rol sodat die spelers die bal kan hoor en vee met die kolf,” sê Ivaan.
’n Krieketbal wat deur blinde krieketspelers gebruik word, het ook stukkies staal in wat ’n geluid maak, en sodoende verseker dat die bal se aankoms gehoor kan word.
Daar is ook drie kategorieë waarin spelers geklassifiseer word, verduidelik Ivaan.
Afhangende van die uitslag van die verpligte oogtoets wat ondergaan moet word deur alle Protea-krieketspelers, word spelers in die B1-, B2-, of B3-kategorie geplaas, wat wissel van geen sig tot sig van ses meter ver.
“Ek en Edrich is al twee in die B1-kategorie,” sê Ivaan.
Beide Ivaan en Edrich stem saam dat die Proteaspan se grootste uitdaging in die internasionale blinde-krieket-wêreldbeker Indië en Pakistan sal wees.
Lande wat die Proteaspan beoog om ore aan te sit, sluit in Nepal en Bangladesj.
Ivaan en Edrich vertrek op 1 Desember na Johannesburg waar hulle ’n oefenkamp sal bywoon saam met die res van die Protea-blinde-krieketspan voor die wêreldbeker later daardie week begin.
Ivaan is ’n administrasie-klerk by De Jagers in Worcester en Edrich studeer bemarkingsbestuur aan die plaaslike Hein Wagner-akademie.


