Twee moorde en ’n verkragting is tydens die langnaweek by die Worcester-polisie aangemeld.

’n 38-jarige man is Vrydag (15 Desember) om 14:15 op ’n plaas in Aan De Doorns vermoor.

“Die oorledene is deur ’n 30-jarige verdagte, wat op ’n ander plaas in dieselfde gebied woon, noodlottig gesteek. Volgens ’n ooggetuie het die verdagte by die ooggetuie gekuier toe nog ’n man daar aankom.

“Die man het toe die verdagte oor R20 gekonfronteer en die twee het begin woorde wissel. Die ooggetuie het by sy huis ingestap en toe hy later weer uitkom, het die verdagte die man met ’n okapi een keer in die nek gesteek. Die verdagte het toe die mes op die grond neergegooi en weggehardloop. Die verdagte is later in hegtenis geneem,” verduidelik AO Vathiswa Jacaobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.

’n Somaliese man is ook op 15 Desember om 00:01 doodgesteek.

“Die verdagte en sy vermeende moordenaar was glo in ’n rusie betrokke. Die rede daarvoor is in hierdie stadium nog onbekend. Die 33-jarige man is een keer in die regterkant van sy bors gesteek. Hy is per private vervoer na die hospitaal geneem, maar is kort na sy aankoms dood verklaar.”

’n Verkragting het volgens Jacobs Sondag 17 Desember in die vroeë oggendure plaasgevind.

“Die 20-jarige slagoffer het Saterdagaand 16 Desember twee mans ontmoet en saam gekuier. Later het hulle haar gevra om saam na die gastehuis te gaan waar hulle gebly het. Toe sy by die gastehuis aankom, was nog vyf mans daar. Een van die mans het haar toe ’n glas bier gegee, en toe weer nog een.

“Ná die tweede glas het sy baie vaak begin voel. Sy kan egter nie onthou dat sy ooit na die kamer gegaan het om te gaan lê nie. Toe sy die volgende oggend wakkerskrik, het sy iets swaar bo op haar gevoel. En toe sy haar oë oopmaak, was die man wat haar die bier gegee het, bo-op haar, besig om haar te verkrag. Sy het hom van haar afgestoot en uit die gastehuis gehardloop,” verduidelik Jacobs.

Die verdagte, wat oorspronklik van Wellington is, is later die dag in hegtenis geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article