Twee vermiste mans van die Langeberg-streek is steeds soek, ná onderskeidelik vier maande en een maand.
Granville Louw (25) van Bonnievale is laas op 12 Julie in die aand deur sy ma gesien.
“Waar ons woon, word die deure om 22:00 gesluit, maar daardie aand net voor 22:00 het hy gesê hy gaan gou winkel toe. Hy het egter nooit teruggekeer huis toe nie,” het sy ma, Gertruide Louw, aan die begin van Augustus verduidelik.
Bipolêre siekte is tien jaar gelede by Granville gediagnoseer en ten tyde van sy verdwyning was hy in die middel van ’n maniese episode. Sy ma het verduidelik dat hy tydens sulke episodes soms deurmekaar en verward kan raak.
Standard & Gazette het vandeesweek navraag gedoen oor of hy al gevind is.
“Ons het hom nog nie gekry nie. In hierdie stadium dra gebed en geloof ons. Terwyl ek nog nie gehoor het my kind is dood nie, sal ek aanhou glo.”
Sy voeg ook by dat daar al ’n hele paar geleenthede was waar mense gesê het hulle het hom op verskeie dorpe gesien, maar niks het enigiets positief gelewer nie.
“Sy pa, wat in Philippi in die Kaap woon, was kort ná die eerste berig hier en ons het vir drie dae na hom gesoek. Ons het selfs tot in Kleinmond gesoek, waar iemand gesê het hulle het hom gesien.”
In die tweede voorval het Nizaam Sauls (25) van Robertson op 5 Oktober spoorloos verdwyn en hy is sedertdien ook nog nie opgespoor nie.
“Ons het nog niks updates nie. Ons as gesin gaan soek soos ons inligting ontvang. Maar daar is ook soveel gerugte wat die ronde doen; ’n mens weet nie wat alles waar of onwaar is nie.
“Die polisie gaan soek ook net as ons vir hulle leidrade gee,” sê sy suster, Natalie Sauls.
. Kontak Natalie Sauls by 082 200 1920 of AO Rachel Burger by 023 626 8340 met enige inligting oor waar Sauls hom mag bevind.




