Twee verkragtingsake is in die laaste week by die Worcester-polisiekantoor aanhangig gemaak.
Die eerste saak is op Donderdag 24 Augustus aangemeld.
“Die slagoffer in die saak is ’n 11-jarige meisie. Volgens die klagstaat is die meisie sedert Januarie 2020 tot Junie 2023 herhaaldelik verkrag. Sy het in 2020 by pleegfamilie gaan woon. Dit is toe dié familie se seun haar glo begin verkrag het. Die klagstaat dui aan dit het plaasgevind wanneer die meisie saans gaan slaap het,” verduidelik adjudant-offisier Vathiswa Jacobs.
Sy sê voorts die meisie het met die onlangse skoolvakansie gevra om by ’n vrou, wat ook in die dorp woon, tydens die vakansie te gaan bly.
“Toe die vakansie aan ’n einde kom, wou sy nie na die pleeghuis terugkeer nie. Sy het egter wel teruggegaan, maar is dieselfde aand weer verkrag.
“Sy het toe vir die vrou in Avianpark vertel wat met haar gebeur het. Die vrou het die saak by die polisie aangemeld.
Die verdagte is nog nie in hegtenis geneem nie.
“Die polisie werk nou eers saam met die maatskaplike werkers om die meisie se verklaring te kry, sodat sy self vertel wat gebeur het, dan kan hulle voortgaan om die verdagte in hegtenis te neem,” het Jacobs verduidelik.
In ’n tweede voorval is ’n 21-jarige vrou glo Saterdag 26 Augustus tussen 02:00 en 04:00 verkrag.
“Die jong vrou het saam met ’n man by sy huis gesit en kuier en drankies geniet. Later het sy gesê sy is moeg en wil gaan slaap. Hy het toe gesê sy moet op sy bed gaan lê, Sy het en hy het sy klere begin uittrek en geslagsgemeenskap met haar begin hê. Sy het hom gevra om te stop, maar hy het haar ignoreer en voortgegaan. Ná die tyd het sy na die huis se voorkamer gegaan en later het hy haar weer geroep om verder te gaan. Sy het hom toe van haar af gestoot. Hy het haar toe huis toe geneem.”
Die saak is Maandag 28 Augustus by die polisie aangemeld. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.



