Twee verdagtes het verlede week in die hof verskyn in verband met die roof en kaping van ’n vragmotor.
Verlede Sondag het ’n boodskap gesirkuleer wat vragmotorbestuurders waarsku teen ’n bloulig-bende wat in Worcester doenig was.
“Vragmotorbestuurders, wees gewaarsku – daar is ’n blouligbende wat rondom Worcester bedrywig is. Gisteraand het hulle ’n vragmotor by een van die verkeersligte gekaap terwyl hulle die blou lig geflits het. Die vragmotor is by Klapmuts teruggevind met die vrag wat op die 6 m sleepwa was, weg. Die bestuurder is ongedeerd. As jy deur ’n verdagte polisiemotor voorgekeer word, skakel asseblief jou noodligte aan om aan te dui dat jy dit gesien het en ry na die naaste polisiekantoor of druk dadelik die paniekknoppie,” lui die boodskap.
Volgens kaptein F.C. van Wyk het die voorval op die N1 naby Rawsonville plaasgevind.
“ ’n Vragmotorkaping is by die Rawsonville-polisie aangemeld vir ondersoek. Dié saak is na die Wes-Kaapse provinsiale ernstige- en geweldsmisdaadeenheid oorgeplaas vir verdere ondersoek.
Volgens berigte het die insittendes van ’n wit voertuig met flikkerende blou ligte hulle as polisiebeamptes voorgedoen. Deur blou flikkerligte te gebruik, het hulle die vragmotor met vuurwapens voorgekeer en die bestuurder en bemanning van die vrag en vragmotor beroof. Die ondersoek toon dat ’n groep manlike buitelanders betrokke was. Vyftien palette met koffie ter waarde van R2 miljoen is uit die vragmotor gesteel. Die vragmotor is teruggevind, maar die vrag was weg,” verduidelik Van Wyk.
In ’n nuusverklaring oor die voorval het die polisie gesê die verdagtes is tydens ’n optrede in hegtenis geneem.
“Speurders verbonde aan die Wes-Kaapse provinsiale eenheid teen ernstige en geweldsmisdade het ’n inligting-gedrewe optrede uitgevoer wat tot die aankeer van twee gesoekte verdagtes op aanklagte van vragmotorkaping en motordiefstal gelei het.” Die eenheid het danksy inligting ontvang ondersoek ingestel en op 13 buitelandse burgers afgekom.
“Die beamptes het Maandag (7 Julie) omstreeks 14:00 inligting ontvang oor ’n gesoekte verdagte wat naby die Kraaifontein-burgersentrum gesien is. Die beamptes het na die geïdentifiseerde adres gegaan waar hulle dertien buitelandse burgers gevind het.”
Een van die verdagtes was jonger as 13 jaar.
“Een van die betrokkenes is geïdentifiseer as ’n verdagte wat positief met die Worcester- en Touwsrivier-vragmotorkapingsake verbind is.
“Dié vragmotors is tussen Laingsburg en Kaapstad op die N1 gekaap.
“Die waarde van die drie vragmotors is op sowat R40 miljoen geraam.
“Die res van die mense is na die Kraaifontein-polisiekantoor vervoer vir ondervraging aangesien nie een van hulle dokumentasie kon verskaf om [te wys hulle is]wettig in Suid-Afrika nie.”
Die polisie het ook bevind een van die verdagtes word in verband met motordiefstal gesoek.
“Tydens die ondervraging en profilering het dit aan die lig gekom dat een van hulle ook gesoek is in ’n saak van diefstal van ’n motorvoertuig.
“Die polisie het beslag gelê op al die selfone omdat dit deurslaggewende bewyse bevat het.
“Die departement van binnelandse sake en immigrasie-amptenare is ingelig en speurders wag op die verslag om te bevestig of hulle gemagtig is om in die land te wees.
“Almal wat in hegtenis geneem is, sal van immigrasieverwante misdrywe aangekla word aangesien hul dokumente as bedrieglik bevind is.
“Die ondersoek duur steeds voort,” sluit die persverklaring af.





