’n 42-jarige man is verlede week in Riverview doodgeskiet.
Die voorval het by die J-9-woonstelblok plaasgevind.
“In hierdie stadium weet ons nog nie hoekom die man geskiet is nie. Inligting dui ook daarop dat die oorledene nie ’n bendelid was nie,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie.
Die polisie het Sondag (25 Augustus) om 01:35 op ’n klagte gereageer.
“Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle op die slagoffer afgekom. Hy het op sy maag in ’n plas bloed gelê. Die ambulansdienste het toe die polisie op die toneel in kennis gestel dat die slagoffer slegs een skietwond aan sy bors gehad het. Die koeël het sy liggaam deur sy linkerskouer verlaat.”
’n Ooggetuie het aan die polisie verduidelik die skote is op haar en die oorledene uit ’n wit motor afgevuur.
“Die voertuig het in Pietersenstraat gery toe ’n insittende op die oorledene en die ooggetuie begin skiet het. Net die oorledene is getref en is hospitaal toe geneem waar hy aan sy wond beswyk het,” verduidelik Jacobs.
Niemand anders is in die voorval beseer nie. Twee verdagtes is sedert die skietery in hegtenis geneem.



