Twee leerders van Steenvliet Primêre Skool in Touwsrivier se eerste digbundels word eersdaags bekend gestel.
Haleema Mirza (12) en Shanidea Persence (13) se liefde vir die digkuns het begin toe hulle verlede jaar vir ATKV se Digiskryf-kompetisie ingeskryf het.
“Hulle het nie gewen nie, maar het wel elkeen ’n deelnamesertifikaat verwerf. Die skryfgogga het hulle egter behoorlik gebyt,” verduidelik Lydia Groenewald, die skool se biblioteekassistent.
Candass Theunissen, die skool se bibliotekaresse en self ook die skrywer van twee digbundels, het toe die twee leerders onder haar vlerk geneem en werksessies met hulle gehou. Sy het hulle uitgedaag om elkeen vir ’n maand lank elke dag twee gedigte te skryf.
Albei jong skrywers bieg hulle het nie veel daarvan gehou om gedigte te skryf voordat hulle vir die kompetisie ingeskryf het nie.
“Ek het glad nie belang gestel in skryf nie. Ek het eers nadat ek aan die kompetisie deelgeneem het, daarvan gehou. Ek het lief geraak daarvoor en Juffrou Theunissen het gesê ons moet net aanhou skryf,” verduidelik Mirza.
Persence het ook nie voor die kompetisie veel van skryf gehou nie.
“Ná Juffrou Theunissen se sessies het ek besef dis interessant om gedigte te skryf. Nou is ek baie lief vir gedigte,” meen Persence.
Nadat die bibliotekaresse gesê het hulle moet hul eie bundels skryf, het hulle niks daarvan gedink om hul gedigte neer te pen nie.
“Namate ek gewoond geraak het om twee gedigte per dag te skryf, het ek sommer in een aand nege geskryf,” sê Persence.
Vir Mirza was dit ook nie moeilik om by die kwota van twee gedigte per dag te hou nie. “Dit was nie moeilik nie. Ek het elke dag inspirasie gekry van die woorde wat juffrou Theunissen in haar twee digbundels geskryf het.”
Peter Jaftha, die skoolhoof, sê dié twee digters se prestasie is ’n riem onder die hart. “Wat hulle twee reggekry het, is ’n riem onder die hart. Dit inspireer my ook en hopelik sal dit ook ander leerders inspireer om hul talente te ontdek en uiting daaraan te gee. Hulle twee het geskiedenis gemaak – hulle is die eerste twee leerders wat digbundels geskryf het,” sê Jaftha.
Al twee die beskeie meisies stem saam dat hulle baie opgewonde was toe hulle hoor hul debuutdigbundels sal gepubliseer word.
Lesers kan die boeke by die skool se bibliotekaresse koop teen R150 elk. Die geld sal vir die twee meisies se studies aangewend word. Die skool kan by 023 358 1239 gekontak word.


