Die Montagu-krieketklub se vrouespan speel tans voortreflike krieket in die T20-premierliga van die Boland-krieketunie en het die afgelope Sondag (21 Januarie), twee wedstryde in Worcester gewen.

Die span se eerste kragmeting van die dag was teen Robertson.

Montagu het eerste gekolf en 79 lopies in sy 20 boulbeurte aangeteken.

S. Goodwin (22), S. Verhoog (10) en K. Delport was Montagu se beste kolwers, terwyl J. Konstabel (3/9) en S. Siljeur (1/9) Robertson se beste boulers was.

Robertson het in sy 20 boulbeurte slegs 54 lopies aangeteken met J. Jeneke wat 15 lopies en D. Fortuin (9) behaal het.

Vir Montagu het K. Delport (4/8), C. Wilschut (3/10) en S. Goodwin (1/12) goed geboul.

Montagu het dié wedstryd met 25 lopies gewen.

In sy tweede wedstryd teen De Wet het Montagu aansienlik beter gevaar nadat hy weer eerste gekolf en dié keer 120 lopies opgestapel het.

E. Pietersen het skitterend gekolf en 42 lopies (nie uit nie) aangeteken. K. Delport (21, n.u.n.) en S. Goodwin (12) het ook die wilgerlat lekker geswaai.

De Wet se boulers wat sukses met bal gehad het, is E. Hamilton, wat in vier boulbeurte een paaltjie vir 19 lopies en C. Samson, wat ook een paaltjie vir 36 lopies in vier beurte, laat kantel het.

In De Wet se kolfbeurt, wat 106 lopies opgelewer het, was E. Pienaar (21) en E. Hamilton (17) sy beste kolwers.

K. Delport (2/13), N. Ahmed (1/18) en S. Verhoog (1/23) was Montagu se suksesvolste boulers.

Montagu het met 14 lopies gewen.

Adrie Pekeur (afrigter) is baie tevrede met sy vrouespan se vertonings tot dusver. “Ons meisiespan bestaan grootliks uit skoolgaande kinders. Hulle maak baie opofferings om hul geliefde sport te beoefen, maar ’n tekort aan geld kniehalter die span. Veral reiskostes is ’n groot kopseer vir die meeste spelers.”. Die vrouespan moet Sondag weer vir ligaverpligtinge na Hermanus reis. Individue, instansies of ondernemings wat skenkings aan die span wil gee, kan Pekeur by 072 791 0074 of die voorsitter, Glen Fortuin, by 071 567 5784 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article