Timothy Oliphant (links) en Stanley Amsterdam jr. se lewe is Sondagoggend kortgeknip toe hulle op die Nekkies-pad in ’n botsing betrokke was.Foto:

Credit: SYSTEM

Die dorp bloei ná die dood van twee jong mense.

Timothy Oliphant (21) en Stanley Amsterdam junior (36) het albei hul engelvlerke gekry toe hulle Sondag in die vroeë oggendure op die Nekkies-pad net verby SAB verongeluk het.

Volgens die Oliphant-familie het Timothy ’n vriend huis toe geneem en op pad terug huis toe was hy in ’n botsing wat sy lewe geëis het.

Lena Oliphant, Timothy se ma, vertel haar seun het die huis omstreeks 18:00 die vorige dag verlaat om by sy vriende te kuier.

“Ek het so 22:00 gaan slaap, maar so ’n onrustigheid in my gehad – amper asof iets aan die gebeur was.”

Twee uur later het iemand aan haar deur kom klop en gevra waar Timothy is. Sy het geantwoord dat Timothy by hul bure was omdat hy en die bure vriende was.

“Hy het weer aan my deur kom klop en gesê ek moet kom, want iets het gebeur.”

Aangesien die ma reeds onrustig was, het sy geweier om saam met haar seun se vriende na die toneel te gaan.

“My buurvrou het ook na my huis toe gekom en gevra of ek nie saam met hulle hospitaal toe wil gaan nie, en toe stem ek in.”

Toe hulle uit Avianpark ry en op die Nekkies-pad kom, het hulle gesien die nooddienste was nog op die toneel en hulle het soontoe gery.

“Hulle (die buurvroue) het uitgeklim om te gaan kyk. Die manier hoe hulle gehuil het, het vir my gesê iets vreesliks het met my kind gebeur.”

Lena het op die ou einde gaan kyk en toe sien sy die dak was af en die masjienkap van die kar het eenkant gelê.

“En toe bevestig hulle aan my dat Timothy nie meer by ons is nie.”

Timothy word beskryf as ’n doelgerigte mens wat altyd die ekstra myl gestap het om ander te help.

Hy was ’n finalejaar- Baccalaureusgraad-student aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie.

Oliphant deel verder haar seun sou Dinsdag (19 Julie) met sy laaste onderwys-proeftydperk in Wolseley begin, maar sê “God het ander planne gehad”.

Die Oliphant-gesin betuig innige meegevoel met die Amsterdam-familie, wat ook ’n geliefde in die ongeluk verloor het.

Amsterdam, wat ook sy lewe in die ongeluk verloor het, was op pad om ’n vriend wat by hulle gekuier het, af te laai. Volgens sy neef Shelton Adams het hulle as familie hul laaste oomblikke saam met hom geniet.

Die Saterdag was dit hul oupa se verjaardag en hulle het almal as ’n gesin bymekaargekom om die dag te vier. Hy het nuwe klere vir die geleentheid aangehad en al sy neefs het hom daaroor geterg.

“Die een dag het ons fees gevier, en die volgende dag het ons gerou,” sê Adams.

Amsterdam word beskryf as ’n pilaar vir sy vriende en familie aangesien hulle enige tyd by hom kon aanklop.

“Ons gaan sy glimlag mis en hoe hy altyd die heerlikste geregte gemaak het. Ons familie is seer en dit is ’n seer wat nie nou sal weggaan nie,” sluit Adams af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article