Polisielede van De Doorns moes Sondag (28 Mei) hul staal wys teen ’n aanslag van ’n groep mans in Lubisi.
Die polisielede is Lubisi toe om ’n verdagte te gaan soek wat na bewering vroeër die dag iemand beroof het.
“’n Man was beroof en het die saak by die polisiekantoor aangemeld. In sy verklaring het hy gesê dat hy die verdagte sal kan uitken. Twee polisielede het saam met hom na Lubisi gegaan om die verdagte te gaan soek,” verduidelik ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie.
Die verdagte het egter begin weghardloop toe hy die polisie gewaar.
“Die een konstabel het die verdagte agternagesit wat tussendeur die hokke gehardloop het. Die polisielid was ook toe gejaag deur ’n groep mans. Lede van die publiek het hom toe gewys hoe om weer by die polisiewa uit te kom.”
Volgens die woordvoerder het die konstabel met sy aankoms by die polisiewa iemand daar dood sien lê en was die oorledene een van die groep mans wat die polisie wou aanval. Die oorledene is glo ’n Lesotho-burger, bekend as Sotho.
“Die man wou die polisielid wat by die polisievoertuig agtergebly aanval en steek. Die polisielid het die man in die been geskiet maar die man het glo steeds die polisieman probeer aanval. Die polisieman het toe sy aanvaller in die bors geskiet en hy is op die toneel dood.”
Volgens die woordvoerder het die twee beamptes vir bystand geroep omdat hulle daarna omring was deur die groep ‘Sothos’. Tydens die chaos het die groep die ook die polisiewa aan die brand gesteek.
“De Doorns se teenbende-eenheid-lede asook Touwsrivier-polisie-lede, wie op hul rusdae was, het op die chaos gereageer,” het die polisiewoordvoerder gesê.
“Maar hulle moes toe almal by ’n informele woning inhardloop vir skuiling omdat hulle in gevaar was. Die woning was omsingel deur ’n groep swaargewapende mense.
“In die woning, waar die ses beamptes ingehardloop het, was daar ’n ma en haar kind. Die groep oproeriges het gesê hulle moet die twee uitstuur want hulle wou die hok aan die brand steek.”
Intussen is ‘n tweede polisievoertuig aan die brand gesteek. Maar te danke aan die Worcester teenbende-eenheid wat op die toneel aangekom het, is die skare uiteen nadat skokgranate afgeskiet is en die vasgekeerde polisiebeamptes is na veiligheid gebring.
Geen arrestasies is tot dus ver gemaak nie.


