Langeberg-munisipaliteit het onlangs twee nuwe senior bestuurders in hul span verwelkom: Adriana Swarts, bestuurder: GOP, prestasiebestuur en kommunikasie, en Bongo Bakaco as bestuurder: inligting- en kommunikasieteg­nologie.

Swarts se primêre verantwoordelikhede behels die bestuur van die GOP-proses en die uitvoering van die gepaardgaande openbaredeelnameprosesse om die GOP op te stel – samestelling van die prestasiebestuursbeleid en fasilitering van die opstel, aanvaarding en effektiewe implementering van ’n organisatoriese PBS gekoppel aan die GOP, en bestuur interne en eksterne kommunikasie deur kommunikasieplatforms binne en buite plaaslike regering te gebruik.

Haar pligte sal onder meer die samestelling van die begroting van die departement, die uitvoering van administratiewe funksies en verslagdoening aan bestuur oor projekte wat deur die eenheid geïmplementeer word, insluit.

Swarts het ’n BA-graad in finansies en dien al meer as twee jaar as begrotingskantoorbestuurder vir Langeberg. Sy het groot blootstelling aan openbare deelname, kommunikasie met eksterne aandeelhouers, finansiële beplanning, begroting en verslagdoening, met 15 jaar ondervinding in die plaaslikeregeringsbedryf. Sy het voorheen vir agt jaar as begrotingsbestuurder by die Cederberg-munisipaliteit gewerk.

Bakaco se hoofverantwoordelikhede sluit in tegniese strategiebeplanning, ontwikkeling en beheer van die IKT-jaarlikse bedryfs- en kapitaalbegrotings ten einde effektiewe, doeltreffende en ekonomiese IKT-dienste te lewer, tesame met induksie-opleiding en gebruikersondersteuning om te verseker dat werknemers hul vermoëns verbeter om konsepte en prosedures in die werkplek te begryp.

Bakaco het ’n BSc-graad in rekenaarwetenskap, chemie, wiskunde en fisika, ’n BSc honneurs in rekenaarwetenskap, leierskapsertifikate, ITIL en besigheids- en stelselanalise, en 10 jaar ondervinding in die IKT-veld.

Hy het groot blootstelling aan digitaliseringsinisiatiewe, mensebestuur, veranderingsbestuur, voorvalbestuur, probleembestuur en IKT-projekbestuur gehad en het voorheen vir Buffalo City- Metropolitaanse munisipaliteit gewerk as ’n bedienerkoördineerder en by Groter Kokstad-munisipaliteit as ’n stelsel- en webadministrateur.

Langeberg-munisipaliteit verwelkom die nuwelinge.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article