Renée Jain is verlede jaar in haar huis vermoor. Foto: Facebook

Credit: SYSTEM

Twee verdagtes is uiteindelik langer as ’n jaar ná die moord op Renée Jain van Wolseley in hegtenis geneem.

Jain is op 26 Maart 2021 net ná 23:00 in ’n rooftog by haar huis op die De Vierde Liefde-landgoed vermoor.

Standard het destyds berig (“Geliefde vrou vermoor, bejaarde bure beroof,” Donderdag 25 Maart 2021) die Wolseley-polisie het Jain met haar hande en voete met kabelbinders gebind en iets oor haar neus geplak, aangetref. Patoloë het gesê sy het versmoor en het ook kopbeserings gehad. Verskeie produkte, waaronder Jain se selfoon en skootrekenaar, is in die rooftog gesteel.

Die verdagtes het haar vir dood agtergelaat en toe by haar bejaarde bure se huis ingebreek, waar hulle allerhande waardevolle artikels gesteel het, asook hul voertuig. Die voertuig is later verlate in Tulbagh gevind. Die bejaarde egpaar was ook vasgebind en in hul toilet toegesluit. Hulle het egter daarin geslaag om hulself los te kry en het die paniekknoppie gedruk.

Vroeër vandeesmaand het DNS-toetse twee verdagtes met die moord verbind.

“Die twee verdagtes is verlede Woensdag in Tulbagh in hegtenis geneem. Albei van hulle is ook inwoners van dié dorp,” het ’n woordvoerder van die Wolseley-polisie aan Standard gesê.

Netwerk24 berig die twee is verlede Woensdag omstreeks 04:20 in hegtenis geneem en was in besit van skoene wat met die moordtoneel verbind kan word.

Die twee verdagtes, ’n 23-jarige en 21-jarige, het Donderdag 19 Mei op aanklag van moord in die Wolseley-landdroshof verskyn. Hul moet Maandag 20 Junie weer in die hof wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article