Die De Doorns-polisie ondersoek tans twee moorde wat onlangs plaasgevind het en waarvan een nog ’n raaisel is.

Dit is onduidelik wanneer of waar in De Doorns die eerste voorval plaasgevind het.

“Personeel by die Worcester-hospitaal het die polisie Sondag (1 September) in kennis gestel van ’n man wat aan sy steekwonde daar beswyk het. Volgens hulle is hy van De Doorns na die hospitaal gebring. Dit is tans onduidelik wanneer 35-jarige Samuel Lulama gesteek is en wat daartoe gelei het.

“Ons weet ook nog nie vir hoe lank hy in die hospitaal was nie,” verduidelik ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie.

Die tweede voorval is Saterdag (31 Augustus) by die polisie aangemeld.

“Ons het om 06:05 ’n oproep oor ’n vermeende moord ontvang. Met die polisie se aankoms op die toneel is ’n 24-jarige man se lyk onder die Stofland- brug gevind.

“Dit blyk die oorledene het net een steekwond gehad en is op die toneel dood. Die oorledene was ’n buitelander,” het die woordvoerder gesê.

Niemand is nog in verband met een van die twee voorvalle in hegtenis geneem nie.

Enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoeke kan help, word gevra om die De Doorns-polisiekantoor by 023 356 4020 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article