Twee mans is aan die begin van November in afsonderlike gevalle in De Doorns doodgesteek.

Beide steekvoorvalle het Saterdag 5 November plaasgevind – een in Lubisi en die ander in Honeystraat, kort na mekaar.

Die eerste voorval is om 22:20 by die polisie aangemeld.

“Volgens inligting het die oorledene en die verdagte ’n onderonsie gehad wat in ’n aanranding ontaard het. Die verdagte het die oorledene in sy regterskouer gesteek. Met die polisie se aankoms op die toneel het die slagoffer nog gelewe en hulle het onmiddellik die ambulans na die toneel ontbied,” het ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie verduidelik.

Die slagoffer is egter op pad na die hospitaal oorlede.

“Die man is dood nog voordat die ambulans uit De Doorns is.”

Die verdagte het hom later by die polisiestasie oorgegee.

Die tweede voorval, later dieselfde aand, is om 22:50 by die polisie aangemeld.

“In hierdie voorval, wat in Lubisi plaasgevind het, is die slagoffer ook in die omgewing van sy skouer en nek aan die linkerkant gesteek. Volgens die verslag is hy net een keer gesteek,” verduidelik die woordvoerder.

Die 40-jarige slagoffer is op die toneel dood verklaar.

Later het ’n ooggetuie die verdagte aan die polisie uitgewys.

“Beide die ooggetuie, ’n 30-jarige vrou, en die verdagte, ’n 21-jarige man, is egter in hegtenis geneem en albei word van moord aangekla.”

Die verdagtes in albei sake het Maandag 14 November op aanklagte van moord in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article