Die bebloede lyk van ’n jong lid van die mannekoor van die Ou Apostoliese kerk in Worcester is Vrydagnag ’n paar meter van sy ouerhuis af aangetref nadat hy tydens beurtkrag met ’n skerp voorwerp in die bors gesteek is.
Die oorledene, John-Marshall Pietersen (26) van Van Huyssteenlaan in Worcester, het twee maande gelede pa geword toe sy vriendin, Tesnoricia van Wyk (21), die lewe geskenk het aan hul eersteling, Tamsyn.
Pietersen het tot sy dood by D & E Steel in Fieldstraat in die nywerheidsgebied in Worcester gewerk.
Sy verslae oom, Nicolaas Schutte – wat in dieselfde huis as hy (Pietersen) woon – sê Pietersen het die huis Vrydagaand verlaat om by ’n nabygeleë kuierplek te gaan snoeker speel.
Schutte sê Pietersen het gereeld by dié betrokke kuierplek te gaan speel.
Hy sê teen middernag – toe al die huismense al geslaap het – het ’n buurvrou benoud na Pietersen se pa, Melville, geroep, terwyl die honde aanhoudend geblaf het.
Schutte sê toe sy broer wakker word en uitgaan, het die buurvrou gesê hy moet kom kyk, sy seun lê buite in die straat.
Volgens Schutte het Pietersen twee huise van sy ouerhuis af in die straat gelê.
Schutte sê toe hulle by die toneel aankom, het Pietersen in ’n plas bloed op sy maag gelê. Volgens hom was sy broerskind toe reeds oorlede.
Schutte sê dit lyk nie of Pietersen beroof is nie.
Hy sê Pietersen sou die Saterdag vir hom ’n selfoon gaan koop het.
Volgens Schutte is die familie stukkend oor wat met Pietersen gebeur het. Hy sê Pietersen was glad nie betrokke by bende-aktiwiteite nie.
Volgens hom was Pietersen iemand met ’n stil geaardheid.
’n Gebroke Van Wyk het aan Standard gesê sy was Saterdag-oggend by haar huis in Van Zyl-laan toe Pietersen se ouers haar vroeg die doodstyding gebring het.
Sy sê sy was histeries en het aanhoudend gehuil.
Volgens Van Wyk is alles nog vir haar onwerklik.
Sy sê Pietersen was nog die dag voor sy dood by haar huis en het gesê hy sou die volgende dag weer by haar kom inloer voordat hy winkels toe sou gaan omdat sy dan vir hom moes sê wat hul dogtertjie alles benodig.
Van Wyk sê sy voel hartseer oor Pietersen se wrede dood. Volgens haar probeer sy oukei wees, maar sy sukkel. Sy sê Pietersen was ’n mense-mens en in die kort tydjie sedert hul dogtertjie se geboort ’n goeie pa vir haar.
Sharen Lakey, ’n bekommerde inwoner van die omgewing, sê: “Ons het ’n rustige jong man tragies verloor. Ons kan ook nie net load shedding daarvoor blameer nie. Die persoon wat dit gedoen het, het geweet wat hy doen.”
Lakey sê sy sal vra dat die polisie tydens beurtkrag meer sigbaar moet wees.
Sy sê baie mense keer gereeld tydens beurtkrag van nagskof af terug huis toe wanneer dit nog donker is.
Volgens haar het sy al ’n voorstel vir straatwagte tydens beurtkrag gemaak.
AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, het die voorval bevestig en gesê ’n moord-dossier is geopen. Volgens haar is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.


