Van links is Mubeen Laatoe (onderwyser by Worcester Sekondêre Skool), Lu-Handré Arendse, Faezal Karriem (hoof van Worcester Sekondêre Skool), Merlin Modicaine en Lee-Ann Haas (onderwyser by Worcester Sekondêre Skool).

Credit: SYSTEM

“Ek was nogal teleurgesteld toe ek nie die Boland-atletiekspan gehaal het nie. Vierde plek was toe nie goed genoeg nie, maar ondanks dit verteenwoordig ek nou vir Boland op ’n ander platform.”

Dít is hoe die 17-jarige Rawsonviller Lu-Handré Arendse op sy onlangse prestasie gereageer het.

Lu-Handré is gekies vir die o.19- Boland akademie-rugbyspan wat Boland van 2 tot 6 Julie in Johannesburg by die akademieweek gaan verteenwoordig.

Hy vertrek op 29 Junie.

Tans offer hy baie op om by rugby-oefensessies in Worcester uit te kom.

“Soms slaap ek oor by ’n vriend omdat ek nie vervoer het Rawsonville toe nie, maar ek besef dis wat ek moet opoffer.”

Mubeen Laatoe, ’n onderwyser by Worcester Sekondêre Skool, glo dat Lu-Handré net hard moet werk en dissipline moet handhaaf om sy doelwitte te bereik. Laatoe, sowel as die res van skool­gemeenskap, stap al ’n geruime tyd ’n pad met dié jong man.

“Ek het hom verlede jaar raakgesien tydens ’n rugby­wedstryd teen Esselenpark Sekondêre Skool,” sê Laatoe.

Lu-Handré is immers nie die enigste een wat vir ’n Boland-rugbyspan gekies is nie.

Merlin Modicaine, ’n gr. 11-leerder by die Worcester Sekondêre Skool, sal ook vir Boland uitdraf. Sy het die Boland meisies o.18-rugbyspan gehaal. Hulle speel van 8 tot 14 Julie in Boksburg tydens die akademie-week.

Sy vertel dat sy haar nooit kon indink dat dit sou gebeur nie.

“Ek het altyd met die seuns gespeel, al van laerskool af. Dis eers hierdie jaar dat ek nou amptelik rugby begin speel het. My familie is trots op my en my gemeenskap is oorweldig deur die nuus.”

Merlin is vasbeslote om skool te voltooi en haar rugbyloopbaan verder te vat, terwyl Lu-Handré vir eers net goed wil vaar by die akademie-week, asook in sy matriekjaar.

Volgens Merlin se onderwyser, Lee-Ann Haas, sien Merlin daarna uit om te gaan, maar verduidelik ook dat dit ’n finansiële uitdaging is.

Sy het Merlin beskryf as “spontaan” en iemand wat regtig “ ’n bok vir sport is”.

Mubeen het ook bevestig dat Lu-Handré R6 000 nodig het om die toer ’n sukses te maak, asook dat Merlin ’n stewige bedrag geld nodig het.

. Om ’n broodnodige skenking te maak en ’n jong speler te help, bel Mubeen Laatoe by 073 248 5122.

. Met die wintervakansie op hande is daar talle nasionale skole-rugbytoernooie wat landswyd plaasvind. Ander plaaslike spelers wat deelneem is: o.18 Cravenweek (3-7 Julie, George): Juwaan Visagie, Lohenzel Jansen, Waylon Pienaar, Garick Kastoor (almal Worcester Gim), Luan Gilliomee (Charlie Hofmeyr), Matt Ramao, Darius Venter en Ettienne Claasen, Benedict George (HTS Drostdy).

o.18 Akademieweek (3-8 Julie, Johannesburg): Kenneth Jansen, MJ van der Westhuizen (Hoër Tegniese Skool Drostdy), Niquen Pietersen, Johan Coetzee (Hoërskool Charlie Hofmeyr), Armand Croeser (Worcester Gimnasium), en Luhandré Arendse (Worcester Sekondêre Skool).

o.16-Grant Khomo-week (26-30 Junie, Hoër Landbouskool Boland): Danico Sass, Gerhard Goosen, Joshua Swarts, Glen-Will Tromp (Hoërskool Charlie Hofmeyr), Lian Lochner, Henko Smith, Christof Nelson, Carlos dos Santos, Ruben von Solms (Hoër Tegniese Skool Drostdy), en Jade-Will de Klerk (Worcester Gimnasium).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article