Twee mense is verlede naweek in skietvoorvalle in Worcester dood.


Twee mense is op Saterdag 19 Augustus in afsonderlike voorvalle doodgeskiet.

In die eerste voorval wat Saterdag om 06:10 gerapporteer is, is ’n 40-jarige man doodgeskiet. Die skietery het tussen die E- en W- woonstelblokke in Riverview plaasgevind.

“Die polisie het ’n klagte van ’n skietery in die omgewing ontvang. Met hul aankoms op die toneel is hulle deur ’n groot groep mense begroet wat hulle gewys het waar die slagoffer gelê het,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.

Die polisiebeamptes het die oorledene se lyk, bedek met ’n wit duvet, in ’n plas bloed gevind.

“Die oorledene, Alex Pietersen, het skietwonde aan die linkerkant van sy nek, bobeen en enkel gehad. Hy is op die toneel deur nooddienswerkers dood verklaar,” het Jacobs gesê.

Twee verdagtes, ’n 19-jarige man en ’n 20-jarige man, is later in hegtenis geneem.

Die tweede moord het heelwat later Saterdagaand plaasgevind toe ’n vrou en haar vriend in Hexpark gestap het.

“Die polisie het om 21:15 die klagte oor die skietery ontvang. Met hul aankoms in Esperancestraat is hulle deur inwoners verwys na Idlewindsstraat, net om die draai. Daar het hulle die lyk van die 26-jarige Janine Neethling ontdek,” verduidelik Jacobs.

Sy sê voorts daar word vermoed Neethling se vriend was die teiken en dat die vuurwapen op haar gerig is toe die skieters hom nie kon raakskiet nie.

“Volgens inligting het die vriend van die toneel af gehardloop toe die verdagtes in sy en Neethling se rigting begin skiet het.”

By nadere ondersoek het hulle gevind die slagoffer bloei erg vanuit ’n skietwond aan haar kop.

“Die slagoffer is op die toneel dood verklaar. ’n Omstander het later kom sê hy ken haar, dat die oorledene sy broer se vriendin was. Die omstander se broer het toe later teruggekeer na die toneel en het aan die polisie bevestig dat hy saam met haar was toe daar op hulle losgebrand is.

“Die voorval het voor ’n winkeltjie gebeur en volgens die eienaar van die winkel het hy gehoor drie skote word afgevuur. Die oorledene is egter net een keer raakgeskiet, wat lei tot die aanname dat haar vriend egter die teiken was.”

Niemand is nog in verband met die skietery in hegtenis geneem nie. Die polisie kan ook nie sê of dit bendeverwant was nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article