André Theron (met die bril) en Quintin Oosthuizen (regs van Theron) op hul laaste dag as staatsaanklaers. Foto: Tamsyn Jantjies


Die plaaslike departement van justisie het verlede Vrydag twee staatmakers gegroet.

Advokaat André Theron (55) en advokaat Quintin Oosthuizen (56) het Vrydagmiddag hul togas op die stoep van die hof oorhandig voordat hulle luidkeels deur hul kollegas, wat ’n erewag gevorm het, gegroet is.

Theron en Oosthuizen meen hul vroeë aftrede is bittersoet.

“Ek gaan die mense mis, maar nie die werk nie. Dit was lekker om elke dag in ’n omgewing te werk waar so ’n verskeidenheid mense is. Ek gaan die interaksie mis, en selfs die publiek met wie ek nou al goeie verhoudings gebou het,” sê Theron.

Sy loopbaan in die regte het reeds in 1987 begin toe hy as administratiewe klerk begin werk het. Hy het 10 jaar later, in 1997, as staatsaanklaer begin werk.

“Die regte was so half in die familie. My pa was ’n hooflanddros, dus het ek met die regte grootgeword. Maar ek dink dit is die regte tyd vir my om af te tree. Dit het nog nie heeltemal by my ingesink nie.”

Theron glo hy en sy kollega het ’n goeie nalatenskap vir dié wat ná hulle kom.

“Al is die aftrede bittersoet, dink ek ons twee het ’n goeie legacy. Al het ek in omgewingsake gespesialiseer, het ek oral in die landdroskantoor gewerk. Ek is baie tevrede met my loopbaan. Ek het baie gedoen.”

Dié voormalige staatsaanklaer het vir eers geen groot aftreeplanne nie.

“Ek wil eers tot verhaal kom. Ek het niks beplan nie, maar het baie wat ek graag wil doen. Ek wil nou eers baie tyd saam met my vrou en kinders deurbring. Ek sal later weer mense in die gemeenskap ook help.”

Oosthuizen meen dit het Maandag vir hom gevoel asof hy ’n langnaweek het. “Dit voel nog nie asof ek afgetree het nie. Dit gaan so ’n rukkie vat voordat dit heeltemal by my insink.”

Hy het in 1986 by die departement van justisie begin.

“Die regte was nog altyd ’n belangstelling van my. Ek het op skool handelsreg geneem en altyd gedink dis iets waaruit ek ’n loopbaan kan maak.

“Ek was altyd akademies ingesteld op skool.”

Hy vertel ook hy het – eers baie jare nadat hy ’n staatsaanklaer geword het – besef wat hy vir die gemeenskap doen.

“Ek het baie later besef wat dit is wat ek vir die gemeenskap doen. En dit laat ’n ou nogal meer aandag skenk aan wat jy doen.”

Hy beaam ook wat Theron vroeër gesê het.

“Ons het ’n goeie basis met die opleiding van nuwe mense en ons laat dit in goeie hande. Ons het net voortgebou op wat vir ons geleer is. Dit is ook hartseer om af te tree. Ons het almal ’n baie noue band soos familie gehad.

“Ons het na mekaar omgesien; ons het mekaar gehelp. Ek gaan dit vreemd vind as mense nie meer gaan bel wanneer hulle raad nodig het nie.”

Hy meen egter dit is nou tyd om die stres wat met die werk gepaard gaan, prys te gee.

“Dis ’n ongelooflik stresvolle werk. Ek het lang ure gewerk en sonder ophou werk huis toe geneem. Ek is bly daai gedeelte is nou verby.”

Net voor sy aftrede was Oosthuizen instrumenteel in die vonnisse van lewenslange gevangenisstraf vir twee verkragters.

Soos sy kollega gaan Oosthuizen ook vir eers sy vrou ’n bietjie bederf en dinge vir haar makliker maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article