Die man wat verlede week in hegtenis geneem is in verband met die massa-skietery in Tulbagh sal Dinsdag 12 Julie vir ’n borgtogaansoek in die hof verskyn.

Vier mans is doodgeskiet en een ernstig gewond in die skietvoorval wat Saterdag 25 Junie omstreeks 21:00 in Joostestraat plaasgevind het.

Die vier mans wat dood is, se ouderdomme is 30, 32, 33, en 37.

“Die vyfde slagoffer, ’n man, is in die hospitaal opgeneem en drie vroue en nog ’n man is ongedeerd,” het die provinsiale polisiewoord­voerder verlede week gesê.

Die polisie het onmiddellik ’n 72-uur-plan om die verdagtes te vang, in aksie gestel asook ’n R100 000-beloning aan enigiemand wat inligting kan verskaf wat tot ’n inhegtenisneming sou lei.

Die verdagte, Makabulelwa Dada (29), van Lesotho, is verlede Dinsdag ná noukeurige speurwerk van die polisie in die Marikana-informele nedersetting in die dorp in hegtenis geneem. Die polisie sê Dada is sonder dokumente in die land.

Dada se eerste verskyning was Donderdag 30 Julie, maar dit is uitgestel tot Maandag 4 Julie sodat hy regsverteenwoordiging kon kry, waarna die saak toe weer uitgestel is – dié keer tot 12 Julie – vir ’n borgtogaansoek.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, gaan hulle borgtog in hierdie saak teenstaan.

Die verdagte word aangekla van moord met voorbedagte rade, poging tot moord, die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie en dat hy onwettig in SA is.

Standard het hierdie week die polisie gevra of die motief vir die skietvoorval al bekend is en of enige ander verdagtes al in hegtenis geneem is.

“Neem asseblief kennis dat die inligting in die vorige verklaring steeds geldig is. Geen verdere inhegtenisnemings het gevolg nie, behalwe vir dié van die 29-jarige ongedokumenteerde Lesotho-burger,” het die provinsiale polisiewoordvoerder AO Joseph Swartbooi geantwoord.

Die polisie vra egter steeds dat enigeen met inligting oor die skietvoorval Crime Stop by 0860 10111 moet bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article