CAPE TOWN, SOUTH AFRICA – NOVEMBER 28: Bongi Mbonambi of Western Province gets ready to throw in during the Carling Currie Cup match between DHL Western Province and Vodacom Blue Bulls at DHL Newlands on November 28, 2020 in Cape Town, South Africa. (Photo by Shaun Roy/Gallo Images)


Tulbagh, wat een van sy teleurstellende tye in jare op die rugbyveld beleef en op die drumpel is om sy plek in die Witsentraal-streekliga van die Boland- Grootuitdaagbeker te verloor, het Saterdag op sy tuisveld gewys dat hy darem nog oor veggees beskik toe die span Wolseley op ’n verrassende wyse 14-12 getroef het nadat hy rustyd 7-0 voor was.

Ongeag die uitslag, bly Tulbagh steeds laaste op die punteleer met nog wedstryde teen Ceres weg en Bella Vista tuis wat nog voorlê met die vooruitsigte op welslae bitter min in hierdie stadium.

Niemand sal Tulbagh egter nou van hul vreugde ontneem nie, want bitter min goeie dinge het hulle padlangs gekom en Saterdag was uitsonderlik en boonop ’n derbystryd wat tradisioneel die hoogtepunt op albei spanne se sportkalender is. Vir Tulbagh moes hierdie oorwinning baie beteken het, eerstens om die gemoed in die klub te lug, tweedens om vertroue op te bou en derdens om die karakter van die klub verder uit te bou. Dit was karakter wat Tulbagh gewys het wat hom hierdie keer deurgedra het, dit nadat Delicious die span verlede naweek nog met 54-7 afgeslag het.

Dit was nie net sy karakter alleen nie, maar ook geduld en temperament wat die spelers aan die dag gelê het wat die verskil tussen wen en verloor was. Daarom sal dit ’n hartseerdag wees as Tulbagh sy plek moet afstaan. Tulbagh het weer eens bewys hy beskik oor die vermoë en talent om ander spanne te klop, maar die spring van die bal het hulle telkemale gepootjie.

Wolseley aan die ander kant, wat ook maar ’n stormagtige tydjie beleef, se vermoëns is welbekend en Tulbagh moes diep delf om die besoekers in toom te hou wat hulle deeglik gedoen het.

Die voorspeler-spel was redelik gelykop terwyl die agterspelers mekaar soos valke dopgehou het. Tulbagh het egter teen rustyd verdien om voor te loop omdat hy sy kanse beter benut het.

Wolseley se selfsugtigheid het hom nie net punte, maar ook die helfte en die wedstryd laat verloor. Baie ongedwonge foute en opsies het Tulbagh maklik laat asemhaal wat hy heeltyd self onder druk geplaas het.

Intussen was dit Tulbagh wat die telbord aan die gesels gehou het en sy rustydvoorsprong na 14-0 vergroot het, terwyl Wolseley steeds voortgesukkel het om rigting te kry.

Twee drieë waarvan een verdoel is, het Wolseley 14-12 binne trefafstand van Tulbagh gebring, maar Tulbagh se veggees teen die einde en vader tyd het Wolseley teleurstellend laat eindig met die doellyn in sig.

Vir Tulbagh het Janteinor Kok en Jandré Johannes drieë gedruk wat albei verdoel is deur Mikyle Duminee. Wolseley se punte het bestaan uit drieë deur Charlon Snyders en Brandon Williams waarvan Henrico Maurice een verdoel het.

Ander uitslae van die dag:

Tulbagh B 0-14 Wolseley B

Tulbagh C 21-8 Wolseley C.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article