Twee jong mans wat in Amerika boer, moes die skokkende nuus verneem dat hul pa gisteraand in Suid-Afrika in ‘n plaasaanval vermoor is.

Die 59-jarige boer Martin Louw is gisteraand (Woensdag) 21:00 vermoor op die plaas Wolwefontein by Tulbagh, waar hy glo ‘n plaasbestuurder was. Hy was ‘n baie bekende en geliefde boer van die streek. 
Volgens die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, lt. kol. André Traut, is Louw gesteek gedurende ‘n rooftog. Die verdagtes het gevlug met inhoud uit die huis. 
“Omstandighede rondom die moord word nog ondersoek,” het Traut bygevoeg.
Volgens ‘n bron is Louw ingewag voordat hy vermoor is.

Twee van Louw se seuns werk vir boere in Amerika. Een van dié seuns, André Louw, het in ‘n boodskap aan Standard gesê hy en sy broer het in Amerika gaan werk met die hoop op ‘n beter toekoms. 

Agri Wes-Kaap het sy medelye met die Louw-gesin uitgespreek. Jeanne Boshoff, woordvoerder, sê geweldsmisdaad in die landelike gebiede in die Wes-Kaap is aan die toeneem.
Sy sê Agri Wes-Kaap se beleidskomitee vir landelike veiligheid is in 24-uur kontak met die polisie en plaaswagte in die provinsie en doen gereeld misdaadopnames onder hul lede.  

Die plaashuis waar Martin Louw van die Tulbagh-distrik Woensdagaand vermoor is. Foto: Jaco Marais/Netwerk24

“Ons gebruik interne kommunikasieplatforms om met ons lede oor plaasveiligheid en die implementering van veiligheidsmaatreëls te kommunikeer. Die voormalige minister van Polisie het geweier om statistieke oor plaasmoorde bekend te maak. Wat ons hieruit kan aflei, is dat daar by die regering geen politieke wil bestaan om misdaad in die landelike gebiede aan te spreek nie.  Agri Wes-Kaap betreur die onnodige dood van mnr. Louw. Sy gesin, vriende en kollegas bly in ons gebede.” 
Sers. Scarlett Buttress, Tulbagh se polisiewoordvoerder, sê  geen verdagtes is nog uitgeken of in hegtenis geneem vir die moord op Louw nie. 

Martin Louw

Sy moord kom slegs ure nadat ‘n 62-jarige vrou van Moorreesburg ook gister deurgeloop het onder ‘n plaasaanval toe sy deur twee onbekende mans in haar huis gedreig en beroof is. Die verdagtes het gevlug met huishoudelike items. Niemand is ook nog vir dié aanval in hegtenis geneem nie. 
Die ondersoekbeampte in die Louw-moordsaak is sers. Fouché van die Tulbagh-polisie. Mense met inligting kan hom bel by 023 230 8100.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article