Eldene Thomas (22) het verlede maand haar onderwysgraad behaal nadat sy die afgelope drie jaar as langafstand-vragmotorbestuurder op die hoofroetes tussen Kaapstad en Johannesburg, asook na Durban, gewerk het.

Credit: SYSTEM

Toe die pandemie in 2020 tref en haar studies ewe skielik aanlyn geskied, het die 22-jarige Eldene Thomas van Worcester besluit sy gaan ’n deeltydse langafstand-vragmotorbestuurder word.

Thomas, wat in Robertson gebore is en haar skool­loopbaan by Hoërskool Breërivier in Worcester voltooi het, het verlede maand haar onderwysgraad aan die Universiteit van Kaapstad behaal.

“Ek het ’n passie vir mense en ek is mal oor kinders. Dit is waarom ek onderwys studeer het en ook toe ’n loopbaan as vragmotorbestuurder gekies het. Ek het in 2020 ewe skielik teruggetrek Worcester toe weens die pandemie en was moeg om dag in en dag uit by die huis te sit. Ek moes iets doen,” vertel sy aan Standard.

Haar oom en tannie, Patric en Jo Foreman, besit en bestuur ’n vragmotor­maatskappy in die dorp, Foreman Logistics, en word deur Pool-vervoermaatskappy gekontrakteer vir verskeie doeleindes.

Thomas het gereeld haar oom en tannie vergesel as hulle die land platgetoer het en het hier ’n passie vir reis ontwikkel.

“Ek was gereeld saam met hulle. Dan gaan ons Oos-Kaap toe, dan is ons in Mpumalanga, die volgende week is ons in Gauteng. Dit was ’n absolute plesier om altyd saam met hulle te toer. Toe die geleentheid opduik dat ek vir hulle kon begin werk en ook my eie vragmotor bestuur, het ek nie een oomblik gehuiwer nie.”

Thomas het weekliks die langpad aangedurf en moes eers in Kaapstad goedere gaan oplaai en dan na Durban of Johannesburg vervoer. Haar studiemateriaal en skootrekenaar het haar oral vergesel en waar sy ’n kans kon afknyp, het sy nog aandag aan haar graad ook gegee.

“Ons het altyd as ’n span gery, so dit was altyd ek agter die stuur en dan my oom of tannie wat my sal aflos. Die mense wat jy ontmoet op die pad en waar jy oplaai en aflaai, is net so gaaf. Almal het ’n mens altyd probeer ophef en inspireer met hul staaltjies. As ek moes eksamen skryf of opdragte doen, het my oom altyd my pligte oorgeneem of toegesien dat ek alleentyd in die trok het om gou my dinge klaar te maak,” voeg ’n dankbare Thomas by.

Sy skerts dat ander vragmotorbestuurders altyd verbaas was dat ’n jong vrou ook ’n loopbaan in logistiek sou kies, maar meen dat almal op haar pad haar net met oorgawe omarm het.

“My oom en tannie is sekerlik my grootste ondersteuners. Dit was ’n wonderlike gevoel om my graad te kon verwerf en ek sou dit nie sonder hulle kon doen nie.”

Sy bedank ook haar familie, vriende en diegene wat sy op die pad ontmoet het.

“Dit was soms uitdagend en dit is lang ure. Die pad is maar gevaarlik, maar ek het altyd anderkant uitgekom.”

Sy wil ander jongmense ook graag inspireer en wys dat enigiets moontlik is.

“Jy kan, as jy wil. As jy dit wil doen, dan kan dit gebeur. Jy moet net glo,” voeg sy by.

Thomas, wat by haar oom en tannie in Avianpark woon, beskryf haarself as ’n mense-mens en verduidelik dat haar lewe op die pad haar oopgemaak het vir nuwe geleenthede.

“Ek wil nou baie graag ’n verdere kwalifikasie behaal in logistiek en verskaffing. Vir nou is ek nog op soek na werk, maar weet die regte deur sal oopgaan.”

Sy is ook bekend op TikTok en verskeie platforms en forums waar ander vragmotorbestuurders graag gesels. Sy het bykans 20 000 volgeling op TikTok. “Hulle ken my as Miss Tears On My Pillow. Ons is maar een groot gemeenskap.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article