’n Trok wat huishoudelike items deur die N1-tolhek by Paarl vervoer het, is omtrent leeggedra nadat twee gewapende mans die bestuurder Saterdagnag (8 Julie) om 20:00 beveel het om terug in die wa in te klim, waarna hulle hom vasgebind het.
Matte, komberse en kledingstukke waarvan die totale waarde onbekend is, is gedurende die rooftog gesteel.
’n Polisiebron het Paarl Post meegedeel die bestuurder van die swaarvoertuig was in die rigting Kaapstad op pad en het ’n vrag wat vir Bellville bestem is, vervoer.
“Volgens die slagoffer het hy vanaf Drie Susters in die Noord-Kaap ’n onbekende man ’n saamrygeleentheid gebied. Op pad na sy eindbestemming het hy in Paarl stilgehou net ná hy deur die tolhek gery het.”
Op daardie oomblik het ’n wit Toyota Etios langs die swaarvoertuig stilgehou, waarna twee gewapende mans uitgeklim en die voertuig betree het.
“Hulle het die slagoffer se hande vasgebind en hom in die voertuig gelos toe hulle weer wegry.
“Kort daarna was die verdagtes weer terug en dit het vir die slagoffer geklink asof mense besig was om voorraad van die voertuig af te laai. Vir langer as ’n uur was die mense so doenig en het toe weer vertrek,” verduidelik die bron.
Later was die verdagtes weer terug op toneel waar die bestuurder nog altyd agter in die wa as gyselaar vasgebind was.
“Die verdagtes het die trok verder leeggedra. Die bestuurder hoor toe dat die trok outomaties afskakel, aangesien dit te lank gestaan en bly luier het.”
Die verdagtes het glo ’n derde keer teruggekeer na die toneel en in die trok gespring om dit weer te probeer aanskakel, maar die trok kon nie weer aanskakel nie.
Dit het toe vir die bestuurder geklink asof die verdagtes vanaf die toneel gevlug het.
Die bron verduidelik verder dat die bestuurder daarin kon slaag om sy hande los te kry en na hulp te gaan soek.
“Die bestuurder sê hy ken glad nie die omgewing nie en het 15 minute langs ’n stopstraat gestaan en wag totdat ’n polisiewa langs hom stilgehou en gehelp het.”
Dit is onbekend of die man wat ’n saamrygeleentheid gebied was met die verdagtes kop in een mus was.
Paarl-polisie se bevelvoerder, kol. Z. Xela, sê ondersoek word na die voorval is gedoen.



