Die diefstal van veral troeteldiere blyk ’n probleem in die vallei te wees wat al meer algemeen raak.

Sosiale media het omtrent gegons nadat kringtelevisie-beeldmateriaal onlangs deur ’n inwoner gedeel is. In die videogreep kan gesien word hoe ’n vrou uit haar motor klim, die erf betree en probeer om ’n kat uit die erf te neem. Dit blyk egter of alarm gemaak word, waarna die vrou geskrik, weggehol en weggery het.

Standard het uitgereik na die eienaar van die video, wat dit duidelik gemaak het hy stel nie in ’n berig belang nie.

Die kommentaarveld op sosiale media was deurspoel met negatiewe kommentaar en mense wat hul misnoeë oor diere-diefstal uitspreek.

’n Ander inwoner van die dorp, Marie Silje, het aan Standard gesê haar worshond, Karing, is verlede jaar uit haar erf in Rouxpark gesteel.

“Ons erf is veilig omhein en ons het ook twee groot honde, wat baie kwaai is. Ek het in Desember een oggend die hekkie vir ons huiswerker gaan oopsluit en gesien die honde is baie rustig. Ek het ondersoek ingestel en dit was duidelik dat hulle bedwelm was. Karing was ook nêrens te vinde nie. Ek het oral gekyk en moes ook aandag gee aan my twee rifrughonde – ek was bang hulle is dalk vergiftig, maar kon Karing nooit kry nie. Daar is nie ’n hoekie of gaatjie waar hy kon uitkom nie,” verduidelik Silje aan Standard.

Sy het nie ’n klagte by die plaaslike polisie aangemeld nie, aangesien sy gevoel het sy sou niks daaruit baat nie.

Juenieta Everson van die Sandy’s Eden-dierebeskermingsorganisasie in Worcester sê inwoners moet juis sulke sake by die owerhede aanmeld.

“Sake kan by die polisie en selfs by ons aangemeld word. Ons sal inwoners bystaan en verseker dat die reg sy gang gaan. Ons kry met talle sake te doen – van diefstal tot mishandeling – en werk nou saam met die polisie.”

Standard het ook na die plaaslike polisie vir kommentaar uitgereik, maar teen druktyd geen antwoord ontvang nie.

Iemand vertroud met die gereg meen egter beamptes is nie altyd ingelig oor hoe om hierdie sake te hanteer nie.

“Inwoners moet druk toepas totdat ’n klagte ondersoek word. Dit word soos enige diefstal ondersoek en bestuur. Die hof moet uiteindelik ’n besluit neem. Polisiebeamptes skrik soms as sulke sake oor hulle pad kom, maar hulle kort beter opleiding,” meen die bron.

Everson sê dat sy in die beplanningsfase is vir ’n opleidingsessie met plaaslike polisiebeamptes oor sake met betrekking tot diere. Sy stel voor dat inwoners ook moet seker maak hul huise is goed beveilig en dat diere nie onnodig uit die erf kan ontsnap nie.

Sy sê ook mense wat deur diefstal van troeteldiere geraak word, kan haar organisasie by 076 597 3027 skakel.

Sy moedig mense ook aan om klagte by die polisiekantoor aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article