Die treinspoor tussen Worcester en De Doorns is steeds nie bruikbaar nie nadat ’n gedeelte daarvan tydens die stormweer ’n paar weke gelede verspoel het.
Heelwat infrastruktuur en paaie het erge skade gely as gevolg van die aanhoudende sterk buie reën wat oor die vallei uitgesak het. ’n Video van die treinspoor het kort nadat dit weggespoel het, die ronde op sosiale media gedoen. Die spoor is tans ontoeganklik vir enige treine.
Terwyl Transnet wel bewus is van die skade, kan hy nie sê teen wanneer dit herstel gaan word nie.
“Die spoorformasie is weggespoel, wat groot skade aan die infrastruktuur en oorhoofse toerusting tot gevolg gehad het. Neem asseblief dus kennis dat gegewe die aard en omvang van die skade dit moeilik is om die geskatte tyd van herstel te bepaal. Transnet sal opdaterings verskaf sodra die hersteltyd bepaal is,” het die spoorwegmaatskappy na aanleiding van ’n navraag gesê.
Hulle verduidelik ook verder dat hulle nog besig is om die benodigdhede vir die herstelwerk bymekaar te kry en is nog onseker oor wat die werk sal kos.
“Transnet is tans nog besig om materiaal en toerusting vir die herstelwerk te verkry, dus is dit nog te vroeg om enige koste te verskaf. “Werk sal begin sodra watervlakke daal.”
Dit is onduidelik hoe hierdie situasie enige nywerhede wat van die Transnet-vragspoorlyne gebruik maak, geraak word.





