BONNIEVALE – Die 26-jarige ma van ’n baba is in die vroeë oggendure in ’n tref-en-trap-voorval in Bonnievale dood.

“Volgens ooggetuies het ’n bakleiery ontstaan ??tussen die insittendes van ’n wit Toyota Quantum-bussie en ’n groep mense wat voor Amigo’s Inn gestaan ??het. Die bestuurder van die Quantum het toe vinnig weggery om weg te kom van die groep oproerige mense wat hulle aangeval het.

“Die oorledene, Wildene Isaacs, het in die pad van die Quantum-bussie gestaan ??en is noodlottig beseer toe sy deur die minibus omgery is. ’n Saak van strafbare manslag word tans deur die Bonnievale-polisie ondersoek.

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” verduidelik ’n woordvoerder van die Bonnievale-polisie.

Met die polisie se aankoms op die toneel om 03:20 het omstanders haar met ’n kombers bedek. Sy is op die toneel dood. Volgens gerugte is die bestuurder van die minibus glo van Swellendam, maar dit is egter nie bevestig nie.

Medelye het ná die nuus van Isaacs se ontydige sterfte begin instroom.

“Vanoggend het Bonnievale weer wakker geword met die hartseer, skokkende nuus dat Wildene ‘Deankie’ Isaacs haar engelvlerke gekry het; dat sy haar aardse tuiste verruil het vir haar ewige tuiste.

“Deankie, soos ons haar geken het, was ook deel van ons 2023- ondersteunersklub en as klub wil ons ons innige simpatie en opregte medelye aan haar moeder, Aunty Joanie, haar suster, die breë Isaacs- en Moses- familie, vriende en kollegas betuig. Mag God julle vertroos en die krag gee in hierdie hartseer tyd. Weet dat julle in ons gebede is [sic],” lui ’n boodskap wat op die Bonnievale Bluebirds-rugbyklub se blad gedeel is.

Standard Breederivier Gazette het na ’n tannie van Isaacs uitgereik.

“Ek is nie nou in staat om daaroor te praat nie. Sy was regtig ’n mense-mens. Sy het daarvan gehou om te sosialiseer en om tyd met haar vriende deur te bring.

“Die einste naweek van haar sterfte was dit haar enigste naweek af by die werk.”

Isaacs is verlede Saterdag ter ruste gelê. Sy laat ’n sewe maande oue baba agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article