ROBERTSON. – Die 2023-Breë-Langebergstreekwenner, Robertson Town, is nou die enigste onoorwonne Grootuitdaagbekerspan in die Breë-Langebergstreek nadat Villagers Montagu, wat tot Saterdag (6 April) ook nog nie verloor het nie, in Worcester teen Young Hamiltons vasgeval het.
Town het sy onoorwonne status behou deur sy buurman Robertson Rangers in ’n titaniese stryd op die Van Zylstraat sportterrein naelskraaps met 43-41 te klop.
Town lyk in hierdie stadium van die ligakompetisie onstuitbaar en het tot dusver volpunte in al vyf sy ligawedstryde behaal. Hy beklee tans die topposisie in die Breë-Langebergafdeling met 25 punte .
Hoewel Town die Rangers uit die staanspoor onder geweldige druk geplaas het, was dit die besoekers wat in die veelbesproke derby – dis hoe ’n rugbystryd tussen dié twee aartsvyande bekend staan – eerste punte op die telbord gekry het. Die besoekers het ’n onverdoelde drie aangeteken.
Die tuisspan wat in die vasteskrums oorheers het, het egter minute later die voortou geneem toe Michaine Fick – ná ’n sterk skrum – agter die pale afgerond het.
Collin Willemse (losskakel) se doelskop was oor en die telling het aangeskuif na 7-5 in Town se guns.
Kort hierna het Willemse Town se voorsprong met ’n suksesvolle strafdoel vergroot nadat Rangers se nr. 7-flank ná ongeoorloofde spel met ’n geelkaart gestraf is (telling 10-5).
Town se oorheersing in die skrums was indrukwekkend.
By geleentheid het hy Rangers van sy eie ingooi afgestoot en ná dié vaskopskrum het Fick, wat ’n uitstaande wedstryd gehad het, sy tweede drie – ook deur Willemse verdoel – gaan druk.
Die telling het toe na 17-5 vir die tuisspan gegroei.
Die opdraandestryd het vir Rangers al hoe steiler geword, maar dié het nooit gaan lê nie. Trouens, die besoekers het met mening teruggeveg.
In ’n stadium het hy Town ’n ruk lank in sy kwartgebied onder hewige druk gesit en ’n strafskop afgedwing.
Dawie Conradie (losskakel) het toe Rangers se agterstand met ’n strafdoel tot 17-8 verklein.
Town het feitlik onmiddellik hierna met ’n verdoelde drie teruggeslaan en sy voorsprong weer vergroot toe die telling 24-8 geword het.
Net voor rustyd is die tuisspan se stut, Oliver Regue, ná ’n gevaarlike duikslag met ’n geelkaart gestraf.
Rangers het met dié strafskop die kantlyn opgesoek en ná ’n onstuitbare dryfmaalbeweging vir ’n onverdoelde drie oorgeval.
Die humeure het toe opgevlam en van die spelers het mekaar getakel, maar Jabian Jaftha (skeidsregter) het tussenbeide getree en die orde vinnig herstel, waarna die spanne gaan water drink het met die rustydtelling 24-13 in Town se guns.
Ná die blaaskans het Rangers met meer geesdrif gespeel en Town behoorlik geskud toe hy met twee verdoelde drieë kort ná mekaar die voortou geneem het (telling: 27-24).
Maar Town is nie sonder rede die verdedigende Breë-Langebergkampioen nie. Hy het karakter gewys en op sy beurt self met twee vinnige drieë, waarvan slegs een verdoel is, teruggeslaan om kort daarna weer die leisels met 36-27 oor te neem.
Die atmosfeer was gelaai toe Rangers egter kort hierna met ’n verdoelde drie sy agterstand tot slegs twee punte verklein en die telling 36-34 geword het met Town steeds ’n kortkop voor.
’n Oorwinning, binne bereik van albei spanne, het op die horison lê en wag. Die skare was op hul voete toe die tuisspan weer gaan druk en die telling 43-34 gemaak het.
Maar steeds was dit het einde niet.
Getrou aan sy bynaam, Never Die, het ’n begeesterde Rangers net eenvoudig geweier om boedel oor te gee en weer met ’n verdoelde drie teruggekap.
Ongelukkig het die uurglas vir die besoekers, wat verbete teruggeveg het, uitgeloop en Town het dié opwindende kragmeting teen sy aartsvyand naelskraaps met 43-41 in sy guns beklink.





