Sharneville Herder, skrumskakel van die Montagu-klub, maak gereed om die bal in die Grootuitdaagbeker-kragmeting teen Robertson Town te skop. Montagu het die wedstryd op die King Edward-sportterrein in koue en nat toestande naelskraaps met 28-25 gewen.Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Robertson Town, die voorloper in die Grootuitdaagbeker-afdeling in die Breë-Langebergstreek, het Saterdag (1 Junie) in sy laaste eersterondewedstryd van dié kompetisie sy tweede loesing agtereenvolgens op die lyf geloop.

Die Montagu-klub het die hoogaangeskrewe Town in regte eendeweer op sy tuisveld, die King Edward-sportterrein, naelskraaps met 28-25 streepsuiker gegee.

Die nat en koue weerstoestande, met ligte reën wat nou en dan neergesif het, het alle pogings om aanskoulike rugby op te dis, gekniehalter.

Daarby het albei spanne kwaai onder die skeidsregter se skril fluitjie deurgeloop.

Die besoekers het nietemin eerste bloed geruik toe Collin Willemse (losskakel) die telling met ’n strafdoel 3-0 vir Town gemaak het.

Nie lank hierna nie het Montagu se Charlton Scholtz (losskakel) sake gelykop gemaak toe hy ook ’n strafskop tussen die pale deurgejaag het.

Minute later het nog ’n Scholtz-strafdoel die voortou (6-3) aan Montagu besorg.

Dié geringe voorsprong was egter van korte duur. Willemse het kort hierna die telling met nog ’n strafdoel weer gelyk getrek (6-6).

Montagu het egter weer die leisels oorgeneem toe Mac-John Daniëls (senter) ná ’n strafskop ’n vinnige tikskoppie geneem en met twee verdedigers oor die doellyn gebeur het.

Die doelskop was tussen die pale deur, maar is nie toegeken nie. Die skeidsregter het sy fluitjie geblaas voordat die skop voltrek is omdat die skopper te lank geneem het om te skop.

Die telling het nogtans tot 11-6 vir die tuisspan gegroei.

Net voor rustyd het Town sy neus ná ’n verdoelde drie weer voor gekry nadat die bal afgestorm en agter die doellyn toegeval is.

Die drie is egter eers ná konsultasie tussen die skeidsregter en een van die lynregters toegeken, wat die rustydtelling op 13-11 in Town se guns te staan gebring het.

Ná die blaaskans het Daniëls, wat op sy stukke was, sy tweede drie ná ’n pragtige dartellopie gaan druk. Die doelskop was in die kol.

Dié verdoelde drie het die telling 18-13 gemaak en die voortou weer ’n keer aan die tuisspan besorg.

Kort hierna is Scholtz met ’n geelkaart gestraf en Montagu moes toe met 14 spelers klaarkom.

Dit was egter asof die afstuur van Scholtz die tuisspan ’n hupstoot gegee het.

Montagu het met meer vuur gespeel en tydens ’n goeie aanval ’n strafskop in Town se kwartgebied afgedwing, wat Handré Ontong (regtervleuel) tussen die pale deurgestuur en Montagu se voorsprong na ’n gemaklike 21-13 vergroot het.

Hierna is die tuisspan egter twee keer gestraf.

Town het dié strafskoppe goed gebruik om gebiedsvoordeel te wen. Hy het geleidelik tot in die tuisspan se kwartgebied gevorder, vanwaar hy die een aanval na die ander van stapel gestuur het.

Ongelukkig vir die besoekers is die bal onderskep en die tuisspan se haastige linkervleuel, Devandré Adendorf, het agter die doelpale afgerond.

Ontong het dié maklike doelskop oorgeklits om die telling 28-13 vir Montagu te maak.

Hoewel die uurglas byna leeg was en dié verdoelde drie eintlik die laaste spyker in Town se doodskis was, het hy nie opgegee nie.

Hy het steeds met groot selfvertroue aangeval en ná volgehoue druk in die tuisspan se 22-meter-gebied deur die verdediging gedring en gaan druk. Die doelskop was egter mis.

Die telling het na 28-18 gegroei, met Montagu steeds voor.

Nadat spel hervat is, was die besoekers binne enkele minute weer sterk op die aanval binne Montagu se kwartgebied. Die tuisspan moes behoorlik bontstaan om ’n begeesterde Town van sy doellyn weg te hou.

’n Desperate onderskeppoging van Ontong het hom egter ’n geelkaart besorg en ’n strafdrie vir Town tot gevolg gehad.

Die eindfluitjie het onmiddellik ná die strafdrie geblaas en Montagu het die spannende wedstryd, wat by tye wipplank gery het, op sy tuisveld naelskraaps met 28-25 gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article