Uitspraak is gelewer in die saak van rassisme wat Villagers Worcester teen Robertson Town gemaak het.
Volgens verklarings van Villa en die Boland Rugbyunie het die voorval voor en tydens ’n wedstryd wat op 20 April gespeel is, plaasgevind.
“Terwyl Villagers se eerstespan in die kleedkamer was, is daar getrap en geslaan teen die deur. Die spanbestuurder het die deur oopgemaak en opgelet dat dit een van Town se spelers was. Die spanbestuurder het hom gekeer en verwilder, soveel so dat hulle amper baklei het,” word verduidelik in ’n verklaring wat deur die span uitgereik is.
Die hoofklag is egter een van rassistiese opmerkings teenoor ’n Villa-speler.
“’n Speler van ons klub, naamlik die kaptein, het herhaaldelik geniepsige spel onder die skeidsregter se aandag gebring wat hy doelbewus geïgnoreer het. Deur nie op te tree nie het die betrokke speler van Town vir Villa se kaptein die woorde “Jou k****r” toegesnou. Ten tyde van die voorval was ons vir 10 minute binne die 22 m-speelgebied van Town en die skrum is aan Villa toegeken.
“Weer het die kaptein die nuutste voorval onder die skeidsregter se aandag gebring. Die skeidsregter gee hom toe ’n geelkaart, want hy kla te veel en gee ’n strafskop vir Town en die gebeure het die momentum geswaai.
“Die skeidsregter se absolute partydigheid was duidelik deurdat hy sy assistent-skeidsregter stilgemaak het elke keer as hy ’n oortreding van Town uitgewys het. Die wedstryd-sekretaris van die klub sal getuig van die bevooroordeling van die skeidsregter, daarom dat ons as klub hom verantwoordelik hou vir die gewraakte rassehaat wat onder sy leiding na vore gekom het deurdat hy toegelaat het dat een span net kon doen wat hulle wil.”
Villa voer in hul verklaring aan die speler wat ras-opmerkings geuiter het, het die ander spelers ook uitgevloek.
Boland het Robertson Town en die speler aangekla. “Die klub sowel as die speler word daarvan aangekla dat die betrokke speler tydens ’n wedstryd op 20 April aan ’n speler van Villa sou sê “jou k****r”. Die klub is ook aangekla oor twee ander voorvalle, maar is reeds op 15 Mei onskuldig bevind. Dié uitspraak het slegs betrekking op bogenoemde klagte.
Die betrokke Villa-speler en drie ander getuies het in sy saak getuig.
“Villa se kaptein het self kom getuig dat nadat hy deur die skeidsregter ’n geelkaart gegee is omdat hy ’n voorval gerapporteer het, die betrokke Town-speler, vir hom gesê het “Jou onnosele k****r”. Volgens die Villa-speler was dit terwyl hy besig was om van die veld te loop om sy geelkaart te gaan uitdien.”
Die getuies het dit bevestig.
Robertson Town het egter gekies om geen getuies te roep nie. “Robertson het besluit om geen getuienis aan te bied nie. Hul speler was beskikbaar, maar het besluit om nie te getuig nie. Dus is die paneel slegs gelaat met die getuienis wat deur die unie aangebied is. Die respondente het slegs stellings aan die getuies gemaak dat die betrokke Town-speler ontken dat hy daardie uitlating gemaak het. Stellings aan ’n getuie is egter nie getuienis nie.
“Die paneel was van oordeel daar is genoegsame getuienis en stawing vir hom om op die klagte te kom antwoord en sy saak te stel. Sy versuim om dit te doen, tesame met ander aspekte laat die paneel met geen keuse nie as om die getuienis van die Unie te aanvaar en te bevind dat hy weliswaar so opgetree het soos beweer word.”
Die unie sê voorts die klub sowel as die speler is skuldig bevind.
“Die klub, Robertson RVK (Town), word met R10 000 beboet. Hierdie boete is betaalbaar voor of op 24 Mei. Die speler word vir ses ligawedstryde geskors as speler van sy klub of enige ander klub binne die unie.
“Dit sluit in wedstryde wat die speler tydens die saak reeds uitgesit het,” aldus die unie.



