ASHTON. – Die Robertson Town- rugbyklub (84 ligapunte) beklee die topposisie op die Grootuitdaagbeker-punteleer in die Breë-Langebergstreek en is sterk in die wedloop om weer dié streek se kampioenskapstitel te wen en terselfdertyd ook vir die Boland-rugbyunie se Top-12-kompetisie te kwalifiseer.

Maar die verdedigende Breë-Langebergkampioen verkeer onder geen illusie nie. Hy besef terdeë dat hy geensins, met veral Villagers Worcester (80) en ook Young Hamiltons (76), wat tans warm in sy nek blaas, op sy louere kan rus nie.

Daarom het hy Saterdag (17 Augustus), seker gemaak hy kry die maksimum punte uit sy kragmeting teen Ashton United op die Cogmanskloof-sportterrein.

Town het vyf drieë gedruk en met 38-22 gewen vir ’n bonuspuntsege waarmee hy sy posisie op die punteleer ’n hupstoot gegee het.

Dié wedstryd in Ashton het met ’n tikkie geskiedenis ontvou toe die legendariese Johan de Koker, oud-SWD- en Saru-senter, se twee seuns, Jovelian de Koker, wat vir Robertson Town uitdraf, en Divandré Strydom, wat onlangs vir Ashton United begin speel het, langs mekaar op die veld gedraf en vir die eerste keer nog teen mekaar kragte gemeet het.

Maar namate die wedstryd gevorder het, was dit egter Colin Willemse, die immergroen losskakel van die besoekers, wat die oog met sy besonderse stelskopvertoning gevang het. Hy het ten spyte van ’n lastige wind wat gedurende die kragmeting gewaai het, nogtans vyf doelskoppe en ’n strafdoel deur die pale gejaag vir ’n waardevolle persoonlike bydrae van 13 punte.

Town het met die begin van die wedstryd met die wind in sy blaaie groot druk op die tuisspan uitgeoefen en ná sowat tien minute ’n voorsprong van 14-0 opgebou nadat Dihan van der Walt (flank) en Isaiah Davids (skrumskakel) gaan druk het. Willemse het beide drieë verdoel.

Ashton het geantwoord met ’n strafdoel deur Lorenzo de Wee (heelagter) en ’n onverdoelde drie deur Regiano Buis (stut) ná ’n dryfmaalbeweging vanaf ’n lynstaan in Town se kwartgebied om die telling 14-8 te maak.

Met die aanbreek van rustyd was die besoekers gerieflik met 21-8 voor nadat Jenno April (buitesenter) sy span se derde drie, wat deur Willemse verdoel is, gaan druk het.

Ná die blaaskans het Divandré Strydom (binnesenter) ná verskeie aanvalle deur die tuisspan langs die linkerpaal oorgeval vir sy span se tweede drie om hul agterstand tot 21-15 te verklein.

Willemse het egter hierna weer sy span se voorsprong met ’n strafdoel vergroot en die telling na 24-15 geneem.

Minute later het die onvoorspelbare plaasvervanger-vleuel, Lindsay (Grimmie) Eksteen, wat sedert sy verskyning op die veld ’n duidelike uitwerking gehad het, sy span se bonuspuntdrie aangeteken. Willemse se doelskop was weer in die kol en die telling het na 31-15 gegroei.

Die uurglas was besig om leeg te loop, maar Ashton het geweier om tou op te gooi en mededingend gebly.

Sowat tien minute voor die einde het sy pogings vrugte afgewerp toe Granville Matthys (regtervleuel) gaan druk het. De Wee se doelskop was tussen die pale deur, wat die telling na 31-22 geneem het.

Kort voor die eindfluitjie het Jumainuine Arendse (kaptein) die wedstryd egter buite die tuisspan se bereik geplaas toe hy Town se vyfde drie, waarin Eksteen ook ’n hand gehad het, gedruk het.

Willemse het sy uitstekende skopvertoning met ’n suksesvolle doelskop afgesluit om die kragmeting 38-22 in sy span se guns te beklink.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article