Touwpark was die afgelope naweek ’n doring in Alberts se vlees.


Touwsrivier se Touwpark-rugbyvoetbalklub (RVK) se dorings het Alberts RVK Saterdag 15 Junie seer gesteek toe beide Touwpark se A- en B-spanne vir Alberts die loef afgesteek het.

Alberts se A-span het in dié twee A-spanne se wedstryd van meet af die pap dik aangemaak en met ’n strafdoel eerste punte aangeteken. Kort daarna het Alberts ’n verdoelde drie aangeteken. Alberts was gou stert in die lug, met die telling op 10-0 in sy guns.

Touwpark het egter kopgehou en Alberts tot foute gedwing. Die heelagter van Touwpark, Clayton Isaacs, het twee strafdoele deur die pale gejaag om die telling tot 10-6 in Alberts se guns te laat krimp. Touwpark het hom reggeruk en die vleuel Dominic van Wyk het die verdedigers met verbysterende vaart geklop en naby die pale gedruk. Isaacs het die doelskop oorgeklits en die telling 13-10 in Touwpark se guns gemaak.

Die twee spanne het sake behoorlik begin uitspook. Alberts het ’n strafskop oorgeskop, wat die telling 13 elk gemaak het. Alberts het weer aangeval en weer ’n strafskop gekry wat oorgesit is. Die telling was toe 16-13 in Alberts se guns.

Kort voor rustyd het Touwpark ’n strafskop gekry en Isaacs het geen fout gemaak nie (telling 16-16). Die manne het halftyd met dié gelykoptelling gaan water drink.

Touwpark het sy vere in die tweede helfte reggeskud en ’n barshou gespeel. Hy het Alberts gedwing om foute te maak en ’n strafskop afgedwing, wat Isaacs weer deur die pale geklits het.

Die telling was toe 19-16 in Touwpark se guns.

Alberts het hierna ook ’n strafskop oorgesit om die telling 19 elk te maak.

Die spanne het mekaar toe behoorlik aangeval en Alberts het ’n skepdoel deur die pale gejaag, wat die telling 22-19 in sy guns gemaak het. Alberts se ondersteuners was op hul voete en het van ’n oorwinning begin droom.

Dominic van Wyk het egter dié droom bederf toe hy sy teenstaander-vleuel aan die buitekant geklop en ’n drie gaan druk het. Die doelskop het egter verby die pale getrek, met die telling nietemin 24-22 in Touwpark se guns.

Alberts het self ’n onverdoelde drie gedruk (telling 27-24 in sy guns).

Hierna het Touwpark ’n strafskop gekry en Isaacs met sy skopstewels aan het die bal deur die pale geklits, wat die telling op 27 elk te staan gebring het.

Die skare op die pawiljoen was behoorlik op hul voete, want Touwpark het aanskoulike rugby opgedis. Sy buitesenter, Leighton Kotella, het die verdediging met sy vaart, vernuftige voetwerk en krag geklop en sy losskakel, Brendon Smith, aan die buitekant in besit gestel, wat Touwpark se derde drie van die wedstryd opgelewer het. Isaacs het weer geen fout met die doelskop gemaak nie en die telling was 34-27 in Touwpark se guns.

Die eindfluitjie het net hierna geblaas, wat Touwpark sy onoorwonne status in die Boland-rugbyunie se Breërivier Streekuitdaagkompetisie laat behou het.. Touwpark se B-span het sy wedstryd teen Albert se B’s met 15-10 gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article