Robertson Sagtebal Krieketunie se seisoen kruip stadig na ’n einde met aksiebelaaide wedstryde.
Die eerste halfeindronde van 19 Mei het begin met Superstars en Die Stoep. Die Stoep het eerste gekolf en bereik 88/6 in hul toegelate 20 boulbeurte.
Brendon Erasmus (28) en Marshed Jagers (28) staan uit met die kolf. Die beste boulers vir Superstars was JC met 2/8.
Superstars op hul beurt sukkel om aan die gang te kom en word almal uitgeboul vir 51 met slegs Curtley Stevens (14) wat bietjie weerstand kon bied.
Victor Benjamin (3/8) was Die Stoep se beste bouler. Die Stoep wen die wedstryd met 38 lopies.
Tornado’s t Pen United
In die tweede wedstryd van die dag kolf Pen United eerste en word almal uitgeboul vir 34 lopies met slegs Greg Lennert (10) wat probeer met die kolf.
Angus Oktober (3/7) was Tornado’s se beste bouler.
Tornado’s op hul beurt bereik die wentotaal van 35/4 in agt boulbeurte. Tru-wayne (3/11) probeer hard met die bal. Tornado’s wen die wedstryd met 6 paaltjies.
Komende Sondag 26 Mei vind die eindstryd plaas tussen Die Stoep en Tornado’s. Om 11:30 speel Superstars t Pen United om derde plek en om 15:00 vind die eindstryd plaas.



