Die Tornado’s het ná uitstekende sagtebal-krieket as die algehele kampioene van die pas afgelope seisoen uitgetree.

Hulle het in die eindronde teen Die Stoep te staan gekom.

Die Tornado’s gaan in om eerste te kolf en word almal vir 84 lopies uitgeboul. R. Fielies (26) en F. Taylor (17) staan uit met die kolf. Victor Benjamin 2/14 en Inzamam Matthys 2/17 was Die Stoep se beste boulers.

Die Stoep kon op sy beurt net nie aan die gang kom nie, veral weens die Tornados se goeie boulwerk. Slegs Amré Konstabel (34) het met die kolf geveg. Die Stoep bereik 82/7 in sy toegelate 20 beurte. Theodore Carolus 3/17 en Angus Oktober 1/9 was Tornado’s se beste boulers. Tornado’s wen die wedstryd met 3 lopies.

Die bestuur wil alle ondersteuners wat die eindronde gaan kyk het, bedank vir hul bydrae tot die sukses van die toernooi en die eindronde. ’n Goeie gees het langs en op die veld geheers, wat baie laat terugdink het aan toernooie jare gelede. Hulle bedank ook AH Marias en Seuns wat grootliks tot die sukses van die toernooi bygedra het.

“Ons glo dat ons vlakkiekrieket tot verdere hoogtes kan bring,” sê die bestuur.

In die uitspeelstryd om die derde plek tussen Pen United en Superstars het Pen United die loot gewen en eerste gekolf. Pen United word almal uitgeboul vir 80 lopies. W. Abrahim (27) en M. Koert (12) staan uit met die kolf. Die beste boulers vir Superstars was A. Majola 3/11 en W. van Wyk 3/14.

Superstars sukkel op sy beurt om aan die gang te kom en almal word vir 56 uitgeboul, met slegs L. Williams (15) en B. Samuels (8) wat weerstand kon bied. “Pang Yaya” 2/6 was Pen United se beste bouler. Pen United wen met 26 lopies.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article