Abiah Phillips, EP se topmatrikulant, saam met heer ma, Abigail, en jonger broer, Jonathan, by haar matriekafskeid.Foto:

Credit: SYSTEM

Al wat Abiah Phillips, Esselenpark Sekondêr (EP) se topmatrikulant, wou doen, was om vir haar ma ’n A te wys.

Toe sy haar uitslae kry, was dit drie A’s.

Sy sê sy het “al die emosies” ervaar toe hulle haar as die skool se topmatrikulant vir 2022 aangekondig het.

“Ek was baie opgewonde en verbaas. Ek het al die emosies gevoel en het trane in die oë gehad. Ek het dit regtigwaar nie verwag nie. Ek wou net vir my ma een A gee, net om vir haar te wys ek waardeer wat sy deur die jare vir my gedoen het,” vertel Abiah.

Haar ma is ’n enkelouer en Phillips wou haar ma op hierdie manier erken en eer.

“Ek wil net my ma trots maak. My pa is oorlede toe ek baie jonk was, en sy versorg my en my jonger broer alleen.

“My ma is baie trots op my,” vertel Abiah.

“Ek wil dinge vir haar makliker maak. Ek ek wil ook ’n rolmodel vir my broer wees, hom wys dit kan gedoen word.”

Voorlopig is sy by Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie ingeskryf om ’n fynbakkerskursus te gaan doen.

“Ek het nog altyd van bak en brou gehou en om in die kombuis te wees,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article