Ikamvalethu Tunnel Farming, ’n plaaslike landbou-onderneming in Nduli buite Ceres, het ’n broodnodige finansiële hupstoot gekry om te help met die herstel van infrastruktuur en die aanskaf van nodige toerusting.
Hierdie ondersteuning het ook gehelp om tydens die herstel van die tonnels, wat twee maande geduur het, werksgeleenthede vir 15 plaaslike inwoners te skep.
Die tonnels en kweekhuis is in ’n hewige storm beskadig wat sommige strukture selfs laat ineenstort het.
Ikamvalethu is nou verlig dat hy ondersteuning ontvang het om weer te kan werk.
Die borgskap wat deur Perdekraal-Oos Windplaas verskaf is, beteken die plaas kon agt tonnels regmaak deur nuwe plastiek, misblasers, kunsmis, chemikalieë en selfs brandstof vir die kragopwekker vir beurtkrag te bekom.
“Ons hoop Ikamvalethu kan deur hierdie finansiering sy onderneming weer op koers stuur en sy visier nog hoër stel. Boonop pluk die gemeenskap van Nduli die vrugte danksy meer werksgeleenthede gedurende die instandhoudings- en produksieseisoen,” verduidelik Gwynne-Lee Borcherds, ekonomiese ontwikkelingsbestuurder van Perdekraal-Oos-windplaas, wat die finansiering verskaf het as deel van sy ondernemingsontwikkelingsinisiatief.
“Die kring van ondersteuning in hierdie gemeenskap is gedemonstreer deur die positiewe impak van hierdie finansiering, wat benadeelde gemeenskapslede en die varkboerderygemeenskap in Nduli bevoordeel het. Gemeenskapslede het gratis skemerkelkie-tamaties en derdegraad-tamaties ontvang en die varkboerdery-gemeenskap het afval van Ikamvalethu se plaas gekry. As hulle vorentoe kyk, sal hierdie finansiering voortgaan om die gemeenskap te bevoordeel deur werksgeleenthede wat deur Ikamvalethu geskep word.”
Ikamvalethu het sy dank uitgespreek vir die ondersteuning wat dit van die windplaas ontvang het en erken die impak wat dit op die gemeenskap gehad het.
“Die finansiering het broodnodige verligting gebied en ons in staat gestel om ons ervaring goed te gebruik. Ons hoop om in die toekoms aan te hou groei en geleenthede vir die gemeenskap te bied,” het Andrew Aloni, direkteur van Ikamvalethu-tonnelboerdery, afgesluit.





