Die Goliath Davids Legacy Project in samewerking met die BVM bied vanjaar die eerste Breedevallei kinder-, tiener- en jeug toneelfees op 21 en 22 September aan.
Leerders en hul mentors berei al sedert die begin van Augustus voor vir hierdie fees.
“Die oudleerders van Lloyd Davids het by verskillende skole in die omgewing met die kinders gewerk ter voorbereiding vir die fees. Die kinders het die keuse gehad om hul eie teks te skryf of hulle kon bestaande teks opvoer,” verduidelik die organiseerder, PJ Davids.
Die kinders gaan verskeie temas opvoer oor die twee aande. Leerders van verskeie skole gaan verskeie items opvoer wat ’n reeks temas dek.
“Ons het vanjaar agt inskrywings en hoop om volgende jaar meer inskrywings te kry. Die projek gaan vir drie jaar duur.”
Davids meen ook kunste in die skool is belangrik omdat dit uiting aan die kinders verskaf.
“Ons jongmense se selfbeeld is vol gate, en die kunste bied meer positiwiteit waarmee daai gate gestop kan word. Kunste is altyd ’n goeie uitlaatklep vir kinders, en die waardes wat hulle daardeur leer is belangrik vir hul selfvertroue, dissipline en vaardighede. Daar is soveel jong talent wat in die skole rondloop wat nog ontdek moet word.”
Kaartjies vir die Dramafees kan of by die Kleinteater se deure gekoop word of by Hexpark Primêre Skool, Roodewal Primêre Skool, Oefenskool of Avian Park Primêre Skool.




