Toerismemaand word elke jaar die hele September gevier.
Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) het Vrydag (30 Augustus) die maand van stapel gestuur met ’n saamtrek in McGregor in die Langeberg. Die tema vir vanjaar is Vrede en Toerisme.
Die distriksmunisipaliteit het ook besluit om die kollig tydens die geselligheid op die dorpie McGregor te plaas in die hoop om meer besoekers na McGregor, wat net 18 km van Robertson geleë is, te lok.
In sy verwelkomingsboodskap het die raadslid Christopher Grootboom, die Langeberg-munisipaliteit se onderburgemeester, gesê sy hoop is dat ontwikkeling nooit in McGregor stop nie.
“McGregor weet hoe om jou te bederf en te voer. Al die rolspelers moet hande vat en eienaarskap neem van hul dorpe en stede.”
Die KWDM se onderburgemeester het op haar beurt gesê toerisme is belangrik om ons land te transformeer. “Ons is omring deur versteekte juwele. Kom ons moedig ander aan om die Kaapse Wynland-distrik te kom besoek en laat ons die gees van avontuur herleef.”
Die meeste van die streek se toerismekantore se personeel het die geleentheid bygewoon en is hartlik deur Koos Steyn, die raadslid vir toerisme en plaaslike ekonomiese ontwikkeling, vir hul harde werk bedank. Hy het bygevoeg: “Toerisme is ’n katalisator vir die bevordering van vrede. Ons vier eenheid wat uit ons diversiteit kom.”
Die Breedevallei-munisipaliteit het ook ’n kennisgewing op sy amptelike Facebook-blad geplaas waarin hy vra vir voorstelle vir toerisme-geleenthede en feeste.
“Die Breedevallei-munisipaliteit poog om besoekersgetalle in die toerismesektor ’n hupstoot te gee en nooi plaaslike organisasies uit om voorstelle in te dien vir die aanbied van geleenthede tussen 1 Oktober en 30 Junie 2025, wat die potensiaal het om ons toerisme-aantrekkingskrag te versterk. “Indien u aansoek suksesvol is, kan finansiering in ooreenstemming met Artikel 67 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur toegeken word,” skryf hulle.
Aansoeke om finansiering sluit op Donderdag 12 September. Stuur navrae en voorstelle aan die toerismebeampte, Nelmari Visser, by nvisser@bvm.gov.za of skakel 023 348 2795.




