Toerismeheffing ‘kan help om Wes-Kaapse bedryf te ondersteun’

‘n Foto van die Paarl van die Jan Phillips-bergpad af geneem. Foto: Jana Scheepers

Die Wes-Kaapse departement van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme het bevestig dat die instelling van ‘n toerismeheffing in die Wes-Kaap ondersoek word as ‘n alternatiewe bron van inkomste vir die toeris­mesektor – ‘n reëling wat moontlik in die Drakenstein-munisipaliteit (DM) toegepas kan word.

Volgens Daniel Johnson, ‘n woordvoerder vir dr. Ivan Meyer, die provinsiale minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, is hier­die ondersoek deel van breër po­gings om volhoubare finansie­ringsmodelle vir toerisme-ontwikkeling en -bemarking in die provinsie te identifiseer.

Soortgelyke toerismeheffings bestaan reeds in ander dele van die land en Drakenstein kan by die implementering van ‘n soortgelyke stelsel baat.

‘n Toerismeheffing, hetsy vrywillig of verpligtend, kan die plaaslike toerismebedryf ondersteun – veral in gebiede waar druk op infrastruktuur en hulpbronne as gevolg van verhoogde toeristegetalle bestaan.

“Die Provinsiale Tesourie en die Wes-Kaapse departement van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme is tans besig om alternatiewe finansie-ringsmodelle te ondersoek – deels om die onderfinansiering van toerismeontwikkeling en -bemarking aan te pak,” sê Johnson.

“Opsies wat moontlik oorweeg sal word, sluit ‘n toerismeheffing in – hetsy vrywillig of verpligtend,” voeg hy by.

Hy benadruk egter dat die gesprekke nog in ‘n vroeë sta­dium is en dat verdere navor­sing en konsultasie vereis word voordat enige besluite geneem word. Daar is ook statutêre vereistes waaraan voldoen moet word, daarom is dit te vroeg om kommentaar te lewer, het hy gesê.

Toerismeheffings van gewoonlik 1% per transaksie is reeds in ander provinsies ingestel.

Die Toerisme-sakeraad van Suid-Afrika (TBCSA), ‘n sambreelorgani­sa­sie sonder winsoogmerk, administreer hierdie vrywillige heffings, dui hul webwerf aan.

Die TBCSA dien as ‘n gesamentlike stem vir toerisme-ondernemings en werk nou saam met die regering en ander belanghebbendes.

André Fourie, ‘n VF Plus-raads­lid in die munisipali­teit, glo dat ‘n toerismeheffing wesenlik kan bydra tot die ontwikkeling van toe­risme – nie net in die provinsie nie, maar ook plaaslik binne die Drakenstein-gebied. Hy beklemtoon egter dat die munisipaliteit terselfdertyd ook sy eie strukture op toerismegebied moet versterk – veral deur die totstandbringing van ‘n funksionele Toerisme-adviesraad.

Dié raad is tans in die proses van samestelling, met die doel om toerisme in die vallei te be­vorder deur gebruik te maak van die kundigheid van plaaslike rolspelers en sakelui wat self in die toerismebedryf aktief is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article