Drie sakeondernemings in die streek het onlangs Tinteltong-toekennings van Afriforum se sakenetwerk ontvang.
Hierdie toekenning word aan innoverende Afrikaanse ondernemings gegee. AnnaBeleef in Worcester, Elana’s in Robertson en Idees vol vrees deur Kobus Galloway, ook in Robertson, het elk verlede week ’n prys ontvang.
AnnaBeleef is ’n unieke geskenk- en koffiewinkel in Worcester.
“Ons is super opgewonde oor hierdie toekenning. En ons is super trots. Ons is ongelooflik oorweldig en nederig dankbaar hiervoor. Dit voel asof my kop nog in die wolke is en ek nog nie terug aarde toe gekom het nie. Ons is net so sterk soos die mense wat ons ondersteun,” verduidelik Annalize Thiart, die eienaar van AnnaBeleef.
Elana’s is bekend vir hul verskeidenheid tuisgemaakte produkte en veral vir hul konfyt en ingemaakte produkte.
“Ons is baie trots hierop. Ek was skoon uit die veld geslaan toe hulle my die eerste keer bel. Ek het nog nooit voor dit van die Tinteltong-toekennings gehoor nie. Ek moes eers bietjie navorsing gaan doen en toe voel ek baie geëerd,” deel Elana Bruwer, die eienaar.
Kobus Galloway is geen vreemdeling wanneer dit by die Tinteltong-toekennings kom nie. Hy is die gewilde spotprenttekenaar van Idees vol vrees.
“Hierdie was my vyfde of sesde Tinteltong-toekenning. Hoewel wen altyd ’n goeie gevoel is, gaan dit nie vir my so baie oor die fisieke toekenning nie – dit gaan oor die innerlike gevoel van waardering en erkenning wat ’n mens kry en om te weet dat jy ’n bydrae lewer in Afrikaans en tot Afrikaans.
“Elke onderneming het sy spoedhobbels en slaggate en ook sy goeie tye, dus is dit altyd lekker om te weet dat iemand jou werk raaksien en jou ’n klop op die skouer gee en sê ‘ons sien wat jy doen, en ons waardeer dit’,” het Galloway gesê.





