Die 18-jarige Melicia Daniels van Rawsonville is ’n aspirantmodel en TikTok-ster en het reeds begin om op dié platform naam te maak.
Daniels het haar matriekloopbaan in 2022 voltooi en sien uit om vanjaar ’n kursus in sosiale media aan te pak, waarna sy hoop om ander jong meisies deur haar TikTok’s te inspireer.
TikTok is ’n platform waar kort videogrepe gedeel word. Resepte, dans, musiek, snaakse video’s en ’n magdom ander materiaal word elke sekonde geplaas, en talle het reeds ’n waardige beroep hierop gevestig.
Daniels sê dit is gewis haar visie.
“Ek love dat ek myself net so openlik kan express en dat ek ander ook kan inspireer om hul ding te doen. Ons almal is uniek en ons elkeen het ’n storie. Ons moet share,” vertel sy aan Standard.
Daniels het tydens die pandemie begin om dans- en kosmaak-video’s te deel en het met haar skerp sin vir humor en vermoë om jou in te trek, nou reeds sowat 40 000 volgelinge, wat sy behoorlik vermaak.
“Ek hou daarvan om mense te laat lag, maar like dit ook om mense te inspireer. Daar is soveel issues in die wêreld, en TikTok wys ’n mens jy kan dit die hoof bied en die lewe ook nog geniet.”
Sy het 450 000 likes op haar video’s en het al ’n projek saam met ’n bekende klerehandelsnaam op sosiale media van stapel gestuur. “Ek wil dit ’n beroep maak. Ek wil ander influence, maar nie net produkte nie – ook kennis en goeie content.”
Haar ma, Beatrice, sê die gesin is baie trots op haar en haar sukses tot dusver. “Ons het dinge nie juis baie breed nie, maar ons probeer ons beste. Ons het in 2017 van Wellington af hierheen verhuis. Dit was ’n aanpassing, maar sy is net altyd positief. Sy maak die lewe lekker en sy gaan nog soveel sukses behaal,” sê haar ma.
Daniels wil vanjaar ook graag modelwerk begin doen en dit in haar strategie inkorporeer.
“Ek is mal daaroor om tyd voor die kamera deur te bring en moeite te doen om mooi te lyk. Ek wil die beste weergawe van myself wees en vir ander wys dat enigiemand – van enige klein dorpie – sukses kan behaal, kan mooi voel en hul beste lewe kan leef.”
Sy voel ook enigeen kan ’n model wees. Dit nie gaan oor uiterlike voorkoms nie, maar ook oor die boodskap daaragter.
Haar video’s is te sien by @that_Melich_girl05 op TikTok.





