Terwyl getraumatiseerde leerders van die Breërivier Senior Sekondêre Skool in Worcester gister (20 November) ’n gebedsessie by die skool bygewoon het ter ere van ’n mede-leerder, Lee-Mark Breda (16), wat Dinsdag (19 November) helder oordag koelbloedig vermoor is, het ’n groep jong mans wat onder meer met messe bewapen was glo die skoolperseel bestorm.
So sê AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, gister aan Standard Breederivier Gazette.
Jacobs sê die leerders is kort ná die voorval vir hul eie veiligheid huis toe gestuur. Sy sê toe die polisie by die skool aankom, was daar geen teken van die gewapende mans nie.
Die polisie kon ook nie enige gevaarlike wapens op die skoolterrein vind nie.
Die aanval op Lee-Mark volg minder as ’n maand nadat die polisie sy Veiliger Feesseisoen Veldtog op Bolandpark in Worcester bekendgestel het, asook kort voor die 16 dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders-veldtog.
Jacobs sê Lee-Mark is omstreeks 13:00 doodgesteek terwyl hy in die geselskap van vriende van die skool op pad terug huis toe was.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), sê Lee-Mark se aanvaller is ’n leerder by dieselfde skool.
Volgens Jacobs het Lee-Mark onderweg na die hospitaal aan sy beserings beswyk. ’n Verdagte is kort ná die voorval in hegtenis geneem.
Die WKOD het sy medelye by monde van Hammond met Lee-Mark se naasbestaandes betuig.
Hammond sê die departement verleen tans die nodige ondersteuning aan die skool. Sy sê terwyl die relevante dissiplinêre prosedures ingestel word, sal die departement ook ’n ogie oor die strafregtelike verrigtinge hou.
Breërivier Senior Sekondêre Skool sê op die skool se Facebook-blad dat dit ’n donker dag in die skool se geskiedenis was, met die tragiese heengaan van Lee-Mark Breda.
“Ons as skool bid hiermee dat ons Hemelse Vader albei gesinne moet bewaar deur hul donker tyd.
“Neem verder kennis dat die skool bewus is van vals gerugte dat meer as een leerder gesterf het. Hierdie gerugte is van alle waarheid ontbloot,” lui die inskrywing.
Daarvolgens versoek die skoolbestuur en -beheerliggaam dat ouers en leerders hulle nie moet skuldig maak aan die verspreiding van gerugte nie.



