Christiano Fortuin se ma het verlede week ’n foto van hom in ’n hospitaalbed gedeel nadat ’n vragmotor bo-oor hom gery het.


’n 14-jarige seun is verlede week dood nadat hy in ’n ongeluk by die munisipale stortingsterrein betrokke was.

“Die voorval het Maandag 26 Augustus gebeur. Die seun het glo probeer om op ’n vragmotor te klim, maar sy voet het gegly, toe val hy. Die vragmotor het toe bo-oor hom gery,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie.

Die seun is hospitaal toe geneem vir behandeling en is later dieselfde dag na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas. Hy het egter Donderdag (29 Augustus) daar aan sy beserings beswyk. Volgens ’n ingeligte was die meeste van die bene in sy liggaam gebreek en was die pyn vir die seun ondraaglik.

Die Breedevallei-munisipaliteit se munisipale bestuurder het sy simpatie met die bedroefde familie meegedeel.

“Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) se munisipale bestuurder, David McThomas, betuig graag sy innige simpatie met die slagoffer van ’n voorval wat op Maandag 26 Augustus by die munisipale stortingsterrein plaasgevind het,” skryf John Bulani, ’n munisipale woordvoerder, in ’n verklaring oor die voorval.

Volgens die verklaring is die munisipaliteit self nie seker wat presies op die noodlottige dag by die stortingsterrein plaasgevind het nie. Dus het die munisipale bestuurder opdrag gegee vir ’n interne ondersoek na die voorval.

Die munisipaliteit doen ook ’n beroep aan diegene wat die stortingsterrein besoek om te alle tye waaksaam te wees en om aan alle veiligheidsmaatreëls van die terrein en BVM-personeel te voldoen.

Die seun se ma het op haar Facebook-blad almal gevra om vir haar kind te bid.

“Bid baie hard vir kind, hy lê in die waakeenheid,” het sy geskryf.

Met sy sterfte het sy almal bedank vir hul gebede en ondersteuning.

“RIP, mammie se liefde. My kind het dit nie gemaak nie, dankie vir almal wat vir hom gebid het, waardeer dit opreg. RIP mammie se Hano [Christiano].”

Dit is tans nog onduidelik of ’n klagte teen die bestuurder van die vragmotor aangemeld is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article