Die KWDM se uitvoerende burgemeester, Elna von Schlicht, is verheug oor die tiende agtereenvolgende skoon oudit. Foto:


Die Kaapse Wynland- distriksmunisipaliteit (KWDM) het die tiende agtereenvolgende jaar ’n skoon oudit van die ouditeur-generaal ontvang.

Die ouditeur-generaal se bestek dek die ouditering van finansiële state, verslagdoening van prestasie teenoor voorafbepaalde doelwitte sowel as nakoming van wette en regulasies.

Die vereiste is dat die finansiële state vry is van wesenlike wanvoorstellings (finansieel ongekwalifiseerde ouditmening) en dat geen wesenlike bevindings oor verslagdoening oor prestasiedoelwitte of nie-nakoming van wetgewing verhinder dat ’n skoon oudit verkry word nie.

“Ek is verheug dat die KWDM hierdie tiende agtereenvolgende skoon oudit behaal het,” het Elna von Schlicht, KWDM se uitvoerende burgemeester, gesê.

“In hierdie uitdagende tye bewys dit waar ’n toegewyde raad dien, ondersteun deur sterk, hoogs gekwalifiseerde administratiewe leierskap, doeltreffende dienslewering kan bestaan terwyl daar ook ’n bewustheid is van die streng wetgewing wat alle voorsienings­kettingprosesse en prestasie­bestuurkantore orden.”

Henry Prins, die KWDM se munisipale bestuurder, wat sy dertiende skoon oudit oor twee munisipaliteite vier, het gesê: “Hierdie tiende opeenvolgende skoon ouditmening getuig van die Kaapse Wynland-distriksmunisi­paliteit se sterk finan­siële bestuur, gesonde interne beheermaatreëls en ’n robuuste begrotingsproses. Hierdie elemente toon die munisipaliteit wend geld tot sy beskikking doeltreffend aan om in die behoeftes van ons burgers te voorsien, soos uitgedruk deur ons GOP, wat uiteindelik lei tot verbeterde dienslewering vir die gemeenskappe wat ons bedien,” sê Prins.

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het ’n bewese rekord in sakeondersteuning en is ook die voorkeurvennoot in die groei van talle ondernemings en die verkryging van ’n wye reeks beleggingsgeleenthede wat lei tot die opgradering van gemeenskappe en die skep van werksgeleenthede.

Nog ’n opeenvolgende skoon oudit, sê Prins, getuig van die feit dat die munisipaliteit sy finansiering aanwend tot voordeel van die breë gemeenskap wat hy dien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article