Thunderballs van De Doorns se netbalspanne het skoonskip gemaak by die Paas-toernooi in Oudtshoorn.


Lede van Thunderballs-netbalklub van De Doorns het oor die Paasnaweek na Oudtshoorn gereis waar hulle aan die Impact Sport Events- Paasrugby- en -netbal-toernooi deelgeneem het.

Die netbaluitspele verloop oor ’n tydperk van twee dae en die Thunderballs junior sowel as senior spanne het vroeg die voortou in die uitspeelronde geneem.

Albei spanne het vir die eindronde gekwalifiseer, wat op Paasmaandag gespeel is, en het behoorlik stof in hul teenstanders se oë geskop. Albei spanne het met die louere weggestap en spog met nog trofeë vir hul versameling.

Die juniors het in die eindronde teen Laeveld te staan gekom en gemaklik met ’n telling van 18-10 gewen. Die senior span het sy eindstryd teen Magic Roses van Oudtshoorn gespeel en met ’n pragtige telling van 28-17 gewen – ’n pragprestasie vir ’n klub wat maar net 10 maande op die been is en ’n groot bewys dat groot dinge vir hierdie meisies en klub voorlê.

Thunderballs het Impact Sport Events, die Oudtshoorn-munisipaliteit, Loretta en Moos Williams en Fabian Appies bedank vir hul bydrae om hierdie naweek ’n sukses te maak.

“Ons maak volgende jaar weer so!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article