’n Talentvolle rugbyspeler van De Doorns, Teswin Jacobs, wys nou sy staal in Duitsland.
“Ek wou nog altyd in die buiteland rugby speel. Dit was altyd vir my net ’n droom. Ek het nog nooit my vermoëns onderskat nie, maar ek het nooit gedink ek sou vandag hier wees nie. Weer eens wys dit as jy dit kan droom, kan jy dit doen – met God aan jou kant.”
Jacobs se liefde vir rugby het al op ’n jong ouderdom begin. Hy het ook in 2020 ’n kontrak met die Westelike Provinsie-rugbyakademie onderteken. En drie jaar later, op 1 Augustus vanjaar, het hy by Rottweil Rugbyklub aangesluit. Hy was selfs ’n paar weke gelede een van die spelers van die wedstryd.
“Ek het met die hoofafrigter van die span, William Esau, in kontak gekom en my rugby-CV en rugbyhoogtepunte was goed genoeg om vir my ’n plek in die span te kry. Ek het later die president van die klub en die vise-president, twee baie goeie ouens, ontmoet, en ons het die bal aan die rol gesit om my rugby hier aan te bied. Ons is ook in verbinding met ’n organisasie wat vir my ’n geleentheid skep om kinders by skolerugby so af te rig.”
Hy het ’n jaarkontrak met die klub onderteken, maar hoop dinge gaan so goed dat hulle hom vra om langer te bly.
“Toe ek met die hoofafrigter gepraat het oor my kans om in Duitsland te kom speel, was ek só opgewonde. Dit het meer as vier maande geneem om alles in orde te kry, want daar was soveel werk wat ons moes doen om my hier te kry. Ek was so gestres en het gedink wat as dit nie gebeur nie? Maar toe alles amper klaar was, het die werklikheid ingeskop en ek het besef dit gaan regtig gebeur en ek was só opgewonde en senuagtig tegelykertyd. Ek het ’n jaarkontrak met die klub en organisasie en hopelik werk dinge goed uit vir my om nog ’n jaar of twee te kry; ons sal sien.”
Hy bieg ook dat dit ’n groot aanpassing vir hom was toe hy in Duitsland aangekom het.
“Die eerste twee maande was baie moeilik, om eerlik te wees. Maar ek was al voorheen in hierdie situasie toe ek by die WP-akademie was. Dit was nou nie so ver van die huis af nie, dus was dit hierdie keer anders en moeilik, want ek moes in ’n vreemde land oor begin. Met verloop van tyd het dinge beter geword, maar ek het nie opgehou om die huis te mis nie. Ek het dit wel tot dusver geniet.”
Hy meen ook aan die begin was die taalverskil moeilik vir hom. “Dit was baie moeilik om aan te pas as gevolg van die taalgrens, maar ek werk daaraan. Die kos is nie dieselfde nie en ek mis Suid-Afrika se kos. Die een indrukwekkende ding vir my is die manier waarop die land en mense so georganiseerd is in amper alles. Die weer is ook vir my moeilik. Ons is tans in die herfs en dit is so koud en dit sneeu amper elke dag; ek is nie gewoond hieraan nie. Die rugbyklub het verskillende kulture – ons het spelers van Duitsland, Argentinië, Kameroen, Roemenië, Venezuela en Frankryk; ek kan aanhou en aanhou, ek het soveel oor die verskillende kulture geleer.”
Vir nou is Jacobs op die tweede helfte van hul seisoen gefokus, want hulle wil baie graag hul liga wen. En hy werk ook hard daaraan om minstens nog ’n jaar of twee internasionale rugby te speel.


